Nuus 13:00
BULLETIN 26 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onwettige chemies-besmette voedsel in Gauteng het gelei tot die Naledi-sterftes
# Die Parlement berei voor om oorsig oor die Presidensie uit te brei
# En, sokker: Arteta sê Arsenal kan nie bekostig om hulleself te bejammer voor die Liverpool-kragmeting nie
# Die minister van Gesondheid Aaron Motsoaledi het bevestig besmette voedsel in Gauteng het die dood veroorsaak van ses kinders in Naledi, Soweto. Die owerhede het beslag gelê op onwettige chemikalië by ‘n winkelsentrum in Johannesburg terwyl daar beweer word tekens van die stof is aangetref in die spazawinkel-produkte wat die kinders geëet het. Motsoaledi en NatJoints het op ‘n mediakonferensie van die ANC se nasionale uitvoerende komitee die vergiftiging as ‘n nasionale sekerheidsbedreiging beskryf. Hy het bevestig vier verdagtes is in hegtenis geneem:
# Die Parlement werk aan ‘n voorstel om die Presidensie onder die toesig te plaas van die portefeuljekomitee oor Beplanning, Monitering en Evaluasie. Dit is in die verlede teengestaan deur die ANC, maar die party steun nou die maatreël en verkies dat ‘n minister rekenskap gee van die begroting van die Presidensie. Opposisiepartye soos die EFF en die MK-party eis direkte aanspreeklikheid deur die president of adjunkpresident. Sou dit goedgekeur word, sal dit die eerste keer in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis wees dat die Presidensie se werksaamhede onder volle wetgewende oorsig is.
# Die Stad Kaapstad het een-duisend nuwe metropolisiebeamptes bekendgestel onder Projek-een-duisend. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die 18-maande leerlingskapprogram bied aan jongmense fisiese opleiding en regsopvoeding om munisipale polisiëring op te skerp. Die inisiatief vul die LEAP-program aan. Smith beklemtoon dat die pogings steun vir die SAPD in die stryd teen misdaad versterk:
# Sokker: Hoofafrigter, Mikel Arteta, sê Arsenal kan na ‘n rits beserings en die skorsing van William Saliba nie bekostig om hulleself te bejammer nie, al is hulle voorbereiding ontwrig voor môre se reusekragmeting teen die voorlopers in die Premierliga, Liverpool. Hulle sal sonder Saliba wees na sy rooikaart in verlede naweek se skoknederlaag teen Bournemouth, en Arsenal hou asem op oor die fiksheid van verskeie sleutelspelers. Bukayo Saka, Riccardo Calafiori en Jurrien Timber is almal in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om fiks te wees vir Liverpool se besoek aan die Emirates-stadion.
# En, dit is vandag tien jaar vandat die Bafana Bafana-kaptein en doelwagter Senzo Meyiwa doodgeskiet is in die huis in Vosloorus van sy meisie, die sanger Kelly Khumalo. Ondanks arrestasies ses jaar later, het die verhoor eers na agt jaar begin, en daar’s nog geen uitspraak nie. Die staat sit met uitdagings met die bewys van die betrokkenheid van die vyf verdagtes. Meyiwa se tragiese dood het sy laaste heldhaftige prestasie oorskadu toe hy aangewys is as speler van die wedstryd nadat hy Orlando Pirates aangevoer het tot ‘n 4-1 oorwinning oor Ajax Cape Town.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….