Nuus 09:00
BULLETIN 26 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering gaan ‘n Township Ekonomiese Beleid opstel te midde van die spazawinkel voedselvergiftiging-gevalle
# ‘n Britse ontwikkelingsbank voorsien ‘n beleggingsoplewing in Afrika se kragoordrag
# En, rugby: Die Leeus kom te staan teen RG Snyman wanneer hulle teen Leinster speel in Verenigde Rugby Kampioenskap
# Die Departement van Kleinsakeontwikkeling en die regering stel ‘n township en landelike ekonomiese beleid op om spazawinkels te reguleer na gevalle van voedselvergiftiging in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Tydens ‘n debat in die Parlement het politieke partye beklemtoon die stap is nie xenofobies nie, en gevra winkels wat nie voldoen aan standaarde nie moet sluit. Minister Stella Ndabeni-Abrahams het bevestig daar word gewerk aan ingryings, samesprekings en regulasies vir mikro-ondernemings:
# Die premier van KwaZulu-Natal Thami Ntuli het prinses Angela Buthelezi geloof as ‘n steunpilaar vir haar ontslape pa, prins Mangosuthu Buthelezi. Die jongste dogter van prins Buthelezi en prinses Irene Mzila is Maandag in die ouderdom van 55 oorlede. Sy word vandag ter ruste gelê. Haar dood volg na dié van haar pa verlede jaar September. Ntuli het haar beskryf as ‘n sterk vrou wat die Buthelezi-familie goed verteenwoordig het:
# British International Investment voorspel ‘n merkwaardige befondsingsgroei in Afrika se kragnetwerke, wat noodsaaklik is vir die uitbreiding van energietoegang en die oorskakeling na hernubare energie. Die ontwikkelingsbank se hoof in Afrika, Chris Chijiutomi, beklemtoon die behoefte aan privaat sektor belegging terwyl regerings worstel met fiskale uitdagings. Die bank beplan om jaarliks tot agt-miljard-rand vir klimaatsbefondsing in Afrika toe te ken, insluitend vir transmissieprojekte. Chijiutomi raai Suid-Afrika aan om privaat beleggings te lok om sy netwerk te verbeter en weg te beweeg van steenkoolafhanklikheid.
# Brittanje het bevestig hy kan dalk bewyse van moontlike oorlogsmisdade in Gaza aan die Internasionale Geregshof oorhandig. Die bewyse is ingesamel deur vlieëniers van die Koninklike Lugmag se spioenasievliegtuie tydens honderde vlugte oor die gebied sedert Desember. Dit is volgens berigte gedoen om intelligensie in te samel in die soektog na gyselaars wat Hamas in Oktober verlede jaar in Israel geneem het. Sky News berig die Lugmag sê Brittanje sal ‘n versoek van internasionale ondersoekers oorweeg om die bewyse te oorhandig.
# En, rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-wenner, Springbok-voorspeler RG Snyman, is in die 23-tal van Leinster teen die Leeus ingesluit wanneer die twee boonste spanne op die punteleer vanaand in Dublin kragte meet in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus en Leinster is albei hierdie seisoen onoorwonne. Die afrigter van die Ierse span, Leo Cullen, het tien veranderings aangebring vir die kragmeting. Een van die veranderings, Robbie Henshaw, maak sy debuut hierdie seisoen nadat hy van ‘n besering herstel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….