Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon lugbesoedeling hou ‘n beduidende bedreiging vir kindergesondheid in en lei jaarliks tot 6,7-miljoen voortydige sterftes. Altesaam 4,2-miljoen mense is in 2019 aan buitelugbesoedeling dood. Die meerderheid van die sterftes was in lae- en middelinkomste lande, veral in Suidoos-Asië en die Westelike Stille Oseaan-streke. Die organisasie bepleit doeltreffende beleid soos skoner vervoer en verbeterde afvalbestuur om besoedeling te verminder en openbare gesondheid te beskerm.
# Die omgewingsliggaam van die Verenigde Nasies sê met inagneming van huidige neigings, is die moontlikheid om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk, feitlik nul. Vanjaar se Emission Gap Report bevind kweekhuisgasse was in 2023 die hoogste op rekord. Die ontleding bevind die huidige trajek in koolstofvrystellings plaas die wêreld op koers om moontlik hierdie eeu met ‘n katastrofiese 3,1-grade Celsius te verwarm. Die verslag vra nasies om hulle tot laer vrystellings te verbind. Lande moet ingevolge die Paryse Ooreenkoms voor 2025 nuwe ondernemings voorlê om koolstof te besnoei.
# En ten slotte: ʼn Beroemde grysbeer wat vir dekades geliefd was onder toeriste, bioloë en beroeps- natuurlewefotograwe in die Grand Teton Nasionale Park is deur ʼn voertuig in Wes-Wyoming doodgery. Grizzly Nommer 399 is op ʼn hoofweg in die Snake River-canyon, suid van Jackson, getref. Sy was minstens 28 jaar oud en die oudste bekende voortplantende grysbeer in die Yellowstone-ekostelsel. Natuurlewe-geesdriftiges het elke lente gewag om te sien hoeveel kleintjies sy gedurende haar winterslaap gehad het. Die grysbere van Yellowstone is ʼn bewaringsuksesverhaal, met getalle wat sedert die 1970’s toegeneem het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….