Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met kieket: Die Proteas se waarnemende toetskaptein, Aiden Markram, hoop gister se oorwinning oor Bangladesj in die eerste toets in Mirpur het Suid-Afrika gehelp om die bordjies te verhang in Suid-Asië. Dit was die eerste keer in meer as tien jaar dat die land ‘n toets in die streek kon wen, en nie een van die huidige spelers het dit tevore ondervind nie. Markram sê dit was baie spesiaal vir die jong, effens onervare span. Die gereelde kaptein, Temba Bavuma, kan moontlik fiks wees vir die tweede toets wat Dinsdag in Chattogram begin.
# Vervolgens, rugby: Die Springbok-losskakel Handré Pollard skuif dalk volgende seisoen na ‘n Japanse klub om by sy Bok-spanmaat Cheslin Kolbe aan te sluit. Sy kontrak met die Engelse klub Leicester Tigers verstryk aan die einde van die huidige seisoen. Daar is gerugte dat hy moontlik by Suntory Sungoliath gaan aansluit teen ‘n jaarlikse salaris minstens gelykstaande aan sy huidige pakket van 13,7-miljoen-rand. Die klub het in die verlede gespog met die dienste van Bokke soos Fourie du Preez en Schalk Burger, asook die Wallabies Matt Giteau en George Gregan.
# Nuus van die tennisbaan: Novak Djokovic het aan die Paryse Meesters onttrek wat moontlik die einde van sy veelbewoë seisoen kan beteken. Die 37-jarige se seisoen het net ‘n Olimpiese goue medalje in Parys opgelewer en hy sal die eerste keer sedert 2017 die seisoen sonder ʼn Grand Slam-titel afsluit. Djokovic kan steeds kwalifiseer vir volgende maand se ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Hy is tans sesde in die wedloop van agt mans wat kan kwalifiseer, maar talle spelers kan hom verbysteek.
# Ons klim in die bokskryt: Die Brit Tyson Fury is vol vertroue vir ‘n uitklop-oorwinning oor Oleksendr Usyk van Oekraïne in hulle herontmoeting in Saoedi-Arabië op 31 Desember. Fury het in Mei deur ‘n nie-eenparige beslissing teen Usyk verloor, maar mik nou daarna om die WBC-titel te herower. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê hy erken dit was ‘n regverdige oorwinning, maar beloof om meer gefokus te wees:
# Ons sluit af met sokker: Japan se beheerliggaam sê hy wil die vroue-Wêreldbekertoernooi in 2031 aanbied om die spel plaaslik te laat groei. Japan het die beker in 2011 gewen, maar sukkel sedertdien terwyl die vrouespel in Europa floreer. Die span het vier jaar later in die eindstryd teen Amerika verloor en kon daarna nog nie weer verder as die kwarteindronde vorder nie. Japan het die manstoernooi in 2002 saam met Suid-Korea aangebied, wat gelei het tot reuse-belangstelling in die sport in die land.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….