Nuus 08:00
BULLETIN 25 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile belê die tweede geskiloplossingsmeganisme
# Georganiseerde misdaadkenners waarsku afpersing beskadig die Suid-Afrikaanse ekonomie
# En tennis: Novak Djokovic sal dalk nie vir die res van die seisoen beskikbaar wees nie
# Adjunkpresident Paulus Mashatile het die tweede vergadering van die regering van nasionale eenheid se geskiloplossings-meganisme saamgeroep. Dit is ‘n platform wat president Cyril Ramaphosa geskep het om beleidsverskille en enige ander geskille in die regering van nasionale eenheid met sy tien lede op te los. Mashatile se woordvoerder, Keith Khoza, sê daar is ooreengekom dat die Sekretariaat die standpunte moet verenig, die opdragte moet uitbrei, en dat verdere beraadslaging oor die BELA-wet moet voortgaan:
# Die globale inisiatief teen transnasionale georganiseerde misdaad sê afpersing versprei blitsvinnig dwarsoor Suid-Afrika en raak feitlik elke sektor van die ekonomie. Kenners skryf dit toe aan vertraagde wetstoepassing, wat gebruike soos konstruksie-afpersing laat floreer. Woordvoerder Jenni Irish-Qhobosheane wys daarop dat vroeë ingrypings die probleem kon voorkom het terwyl wantroue in die polisie vordering bemoeilik. Sy waarsku dat afpersing reeds gelei het tot die sluiting van ondernemings en werksverliese, veral in die konstruksiebedryf.
# Die portefeuljekomitee oor Gesondheid en Welstand in die Gautengse Wetgewer het gesondheidsorgwerkers geprys oor hul toewyding met die verskaffing van kankersorg ondanks ernstige hulpbrontekorte. Die komitee het tydens ‘n in-diepte assessering van kankerbehandelingsgeriewe die behoefte aan meer personeel, beter infrastruktuur en hulpbronne beklemtoon om in die toenemende aanvraag te voorsien. Die komitee se voorsitter, Ezra Letsoalo, erken daar is voortdurende uitdagings, maar het gesondheidsorgwerkers geprys vir hulle harde werk onder moeilike omstandighede:
# Die Los Angeles-distriksaanklaer, George Gascón, het aanbeveel dat Erik en Lyle Menendez weer deur ʼn regter gevonnis en op parool vrygelaat word. Die broers is meer as drie dekades gelede skuldig bevind aan die moord op hul ouers. Hulle dien ʼn lewenslange vonnis sonder moontlikheid van parool in Kalifornië uit. Gascón sê nuwe bewyse regverdig hul vonnisse se hersiening. Aanklaers het tydens die verhoor in 1990 die broers beskryf as ryk kinders wat vir geld gemoor het. Die verdediging het egter aangevoer hulle het ná jare lange emosionele, fisiese en seksuele mishandeling uit selfverdediging opgetree.
# Tennis: Novak Djokovic het aan die Parys Meesters onttrek wat moontlik die einde van sy veelbewoë seisoen kan beteken. Die 37-jarige Djokovic se 2024-seisoen het net ʼn Olimpiese goue medalje in Parys opgelewer. Hy sal die eerste keer sedert 2017 die seisoen sonder ʼn Grand Slam-titel afsluit. Djokovic kan steeds kwalifiseer vir volgende maand se ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Hy is tans sesde in die wedloop van agt mans wat wil kwalifiseer, maar talle spelers kan hom verbysteek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-81-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-725-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….