Nuus 07:00
BULLETIN 25 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die brandstofbedryf vra dat paraffienbelasting op dieselfde vlak as diesel vasgestel word
# Johannesburg Water doen ‘n beroep op inwoners om water te bespaar
# En rugby: Handré Pollard vertrek dalk volgende seisoen Japan toe
# Die Brandstofbedryfsvereniging van Suid-Afrika waarsku teen die voortgesette kwessie van diesel wat met paraffien gemeng word. Die vereniging sê hierdie onwettige aktiwiteit lei nie net tot aansienlike finansiële verliese vir die fiskus nie, maar veroorsaak dat toerusting breek en die mark skeefgetrek word. Die vereniging het ‘n omvattende voorstel ingedien om paraffien se belasting op dieselfde vlak as diesel s’n te hef. Hy glo dit sal die ekonomiese aansporing vir gewetenlose operateurs uitskakel en kan die praktyk se einde beteken.
# Rise Mzansi vra strenger toepassing en regulasies na ‘n vlaag voorvalle van vermeende voedselvergiftiging in Gauteng, die Noord-Kaap en Limpopo. Die party vra ‘n multi-dissiplinêre ondersoek, insluitend ‘n hersiening van waar spaza-winkels en kleinhandelaars hulle aankope doen. Woordvoerder Makashule Gana vra gereelde terugvoering om waninligting te voorkom en die publiek te kalmeer:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het die Verenigde State se jare lange sanksies teen Kuba veroordeel en dit onwettig en onmenslik genoem. Die party het solidariteit met die Kubaanse mense uitgespreek en sê die sanksies is die hoofrede vir hul swaarkry, insluitend kragonderbrekings wat vererger is as gevolg van die onlangse orkane. Hulle vra die onmiddellike opheffing van sanksies, en dring daarop aan dat die besetting van Guantanamobaai beëindig word. Die SAKP beloof sy deurlopende steun tot tyd en wyl Kuba geregtigheid en vryheid bereik.
# Johannesburg Water vra inwoners om water-ambassadeurs te word te midde van lae vlakke in reservoirs. Die nutsmaatskappy waarsku dat waterbesparingspogings van die uiterste belang is om ‘n potensiële krisis af te weer. Woordvoerder Nombuso Shabalala sê behalwe verminderde verbruik word aandag ook gegee aan waterverliese weens lekkasies en vandalisme. Sy vra inwoners om volhoubare praktyke te volg om die stad se watervoorraad te beskerm:
# Die omgewingsliggaam van die Verenigde Nasies sê met inagneming van huidige neigings, is die moontlikheid om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk, feitlik nul. Vanjaar se Emission Gap Report bevind kweekhuisgasse in 2023 is die hoogste op rekord. Die ontleding bevind die huidige trajek in koolstofvrystellings plaas die wêreld op koers om moontlik hierdie eeu met ʼn katastrofiese 3,1-grade Celsius te verwarm. Die verslag vra nasies om hulle tot laer vrystellings te verbind. Lande moet ingevolge die Paryse Ooreenkoms voor 2025 nuwe ondernemings voorlê om koolstof te besnoei.
# Rugby: Springbok-losskakel Handré Pollard skuif dalk volgende seisoen na ‘n Japanse klub om by sy Bok-spanmaat Cheslin Kolbe aan te sluit. Sy kontrak met die Engelse klub Leicester Tigers verstryk aan die einde van die huidige seisoen. Daar is gerugte dat hy moontlik by Suntory Sungoliath gaan aansluit teen ‘n jaarlikse salaris minstens gelykstaande aan sy huidige pakket van 13,7-miljoen-rand. Die klub het in die verlede gespog met die dienste van Bokke soos Fourie du Preez en Schalk Burger, asook die Wallabies Matt Giteau en George Gregan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22 -rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-910-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-729-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….