Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Oktober 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika het ontken dat hy ‘n ooreenkoms met sy Russiese eweknie onderteken het oor die opening van nasionale kredietlyne. Die Russiese bank is tans onderhewig aan Amerikaanse sanksies.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf korrupte amptenare en dokters word na bewering betaal om ryk gevangenes toe te laat om hul tronkstraf in privaat hospitale uit te dien.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan weer sy hele voorblad af aan die Louis Liebenberg-saga. Daar word berig die omstrede diamanthandelaar sê hy gaan minstens ses maande agter tralies bly, want hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie. Hy wil egter hê sy vrou Dezzi moet vrygelaat word, want sy het niks met die aangeleentheid te doen nie. Drie van die nege beskuldigdes het gister borgtog ontvang.
# The Star & Pretoria News:
Skryf die skeuring tussen die ANC en DA in die regering van nasionale eenheid is na bewering besig om te vererger.
En tweedens word berig die staat is van plan om toe te slaan op onwettige spazawinkels aangesien die bedryf nie tans behoorlik gereguleer word nie.
# Sowetan:
Berig môre [Saterdag] is dit tien jaar sedert die sokkerster Senzo Meyiwa vermoor is en die hofstryd duur steeds voort met vyf mans wat tans teregstaan.
# En The Citizen:
Skryf die DA se federale voorsitter, Helen Zille het opnuut opmerkings gemaak oor die ANC se leierskapsrol in die regering van nasionale eenheid.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor Liebenberg en sy medebeskuldigdes se hofverskyning en staan ook sy hele voorblad af aan die aangeleentheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Liebenberg.
En tweedens word berig die Namibiese pastoor, Jacob Maré sê hy sal onderhandel oor die terugkeer van sy negejarige dogter, Yaleen, wat hy die week sonder haar ma se toestemming by ‘n skool in Hartenbos opgelaai het.
# En Cape Times:
Skryf die gemeenskap van Atlantis is geskok na die moord op vyf mense. Nog vyf is gewond toe daar op hulle losgebrand is op pad van die Atlantis-strand na hul huise.
En tweedens berig die koerant ook oor die beweerde skeuring in die regering van nasionale eenheid.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n kontrakteur is in ’n vraghouer in Motherwell gevange gehou en gedwing om beskermingsfooie in ’n rekening oor te plaas as deel van ’n afpersingskema. Talle staatsbehuisingsprojekte in Nelson Mandelabaai word so vertraag.
En tweedens skryf die koerant ’n gesofistikeerde kameranetwerk en vinnige samewerking tussen die polisie en privaat sekerheidsoperateurs het gelei tot die arrestasie van ’n man wat na bewering ‘n Loerie-winkeleienaar vermoor het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met: “DON’T DIE WITH A GUN IN YOUR HAND”. Die koerant skryf die provinsiale polisie het gister hul misdaadvoorkomingsplan vir Desember uiteengesit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese polisie het tans geen magte om die pastoor in hegtenis te neem wat in Suid-Afrika gesoek word, nadat hy saam met sy negejarige dogter verdwyn het nie.
Dan skryf die koerant terwyl werknemers verheug is oor die bykomende besteebare inkomste wat uit die aanpassing van die belastingkoerse spruit, begin ondernemings die druk voel van die belastingterugbetalingsprogram.
En ten slotte is daar nuus oor Namibië wat vandag getooi in pienk Borskankermaand gedenk.