Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die diamanthandelaar Louis Liebenberg verskyn die eerste keer in die hof in verband met korrupsie
# Die Wilgenhof Alumnivereniging wil ‘n verslag oor die sluiting van die geskiedkundige manskoshuis nietig laat verklaar
# En, rugby: Siya Kolisi skuif na nommer 8 vir die Haaie in hulle kragmeting met Munster
# Die diamanthandelaar wat in ‘n beleggingsbedrogspul ter waarde van vier-miljard-rand gewikkel is, Louis Liebenberg, het op ‘n dramatiese manier by die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng, ingestap terwyl hy “Viva Msholozi, viva MK” geskree het. Liebenberg, wat saam met sy vrou Dezzi en sewe ander aangekeer is, staan tereg op aanklagte van rampokkery en bedrog wat verband hou met bewerings dat hulle beleggers verkul het. Die staat is gekant teen borgtog vir drie van die beskuldigdes, maar het voorgestel die res moet borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan word.
# Die Wilgenhof-alumnivereniging berei ‘n aansoek vir die Hooggeregshof voor om ‘n verslag van die Universiteit Stellenbosch om te keer wat die sluiting van Wilgenhof-manskoshuis aanbeveel. Die vereniging beweer die verslag bevat lasterlike bevindings, insluitend bewerings van rassisme, wat voormalige inwoners se reputasie skend. Die groep sê hoewel die universiteit ‘n skikking oor die sluiting met die Vereniging vir die Bevordering van Wilgenhof-inwoners bereik het, is die verslag betwisbaar omdat dit transformasiepogings ignoreer.
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê blootstelling aan die vooruitgang in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie kan ‘n belangrike rol speel vir beleidmakers, kundiges, praktisyns en verbruikers. Die tegnologiese groei in die watersektor sal versnelling moontlik maak, veral met infrastruktuurbeplanning. Mahlobo sê die departement bestuur ingewikkelde stelsels ten einde watersekerheid te waarborg:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering berig 90-persent van voorafbetaalde kragmeters is herkodeer ingevolge die Standaard Oordragspesifikasievereniging. ‘n Energiekenner by SALGA, Silas Mulaudzi, sê die oorblywende tien-persent sal teen 24 November afgehandel wees. Mulaudzi het aan die SABC gesê daar is geen voorneme om die sperdatum uit te stel nie. Hy versoek inwoners om hulle munisipaliteite te nader vir meer inligting:
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, begin Saterdag in die nommer 8-trui vir die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster in Durban. Afrigter John Plumtree het hom van steelkantflank na agsteman verskuif in die plek van Phepsi Buthelezi, wat op die bank begin, met James Venter en Vincent Tshituka die flanke. In die agterlyn vervang Grant Williams sy mede-Springbok, Jaden Hendrikse, op nommer nege. Die Bok-slot Eben Etzebeth sal die span op Kingspark aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-530-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-740-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….