Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê BRICS moet vernuwing en verbindings inspan vir groter streeksontwikkeling
# Die Konstitusionele Hof hoor ‘n appèlaansoek oor gevangenes se toegang tot persoonlike rekenaars
# En, tennis: Die wêreld nommer een-posisie is op die spel vir Sabalenka en Swiatek in die WTA-eindtoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê BRICS-lande moet vernuwing en verbindings inspan om grotere streeksontwikkeling aan te vuur. Hy het Suid-Afrika se verklaring op die 16de BRICS-beraad in Kazan, Rusland, gelewer en Rusland se plan verwelkom om toekomstige vervoernetwerke en digitalisering oor BRICS-lande heen te verken. Volgens Ramaphosa is verbeterde streeksverbinding en bevordering van handel van deurslaggewende belang om bande in die Globale Suide te versterk:
# BOSA het sy voorstelle by die Verkiesingshervormings-raadgewende paneel ingedien voor die sperdatum van 31 Oktober. Mmusi Maimane en sy party bepleit ‘n kiesafdelingstelsel wat bestaan uit verskeie lede en die akkreditasie van koalisie-ooreenkomste. Hierdie hervormings het ten doel om Suid-Afrika se verkiesingsraamwerk te verbeter en ‘n doeltreffende demokratiese proses te verseker. Maimane het ook gevra dat die president deur die mense verkies moet word en nie deur die regerende party nie:
# Die Konstitusionele Hoof sal volgende maand ‘n appèlaansoek van die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, aanhoor wat ʼn uitspraak van die Appèlhof wil laat omkeer wat gevangenes wat studeer toelaat om ʼn persoonlike rekenaar in ʼn sel te gebruik. Thobakgale voer aan die Appèlhof het sy gesag oorskry en sulke beleid moet in die lig van sekerheidsoorwegings deur sy departement bepaal word. Gevangene Mbalenhle Sidney Ntuli het die saak aanhangig gemaak en staan die appèlaansoek teen. Hy betoog die Appèlhof se beslissing is noodsaaklik vir opvoedkundige toegang.
# Die GOOD-party eis geen verdraagsaamheid met die Amerikaanse kunstenaar, Chris Brown, se besoek aan Suid-Afrika. Hulle versoek die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, om hom as ongewens te verklaar, gegewe sy strafregtelike skuldigbevinding weens die aanranding op Rihanna. Dit het daartoe daartoe gelei dat hy verbied is in Brittanje en Kanada en moontlik geweier sal word deur Australië en Nieu-Seeland. Woordvoerder Kaden Arguile versoek die regering op op te tree ingevolge sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgeweld:
# Tennis: Aryna Sabalenka kan die voorste posisie op die wêreldranglys vir die jaar reeds in die groepsafdeling van die WTA-eindtoernooi in Saoedi-Arabië beklink. Die Belarus moet die eerste drie rondomtalie-wedstryde wen om seker te maak Iga Swiatek van Pole steek haar nie verby nie. Sabalenka het Swiatek vroeër die week in die eerste posisie vervang nadat Swiatek weens uitputting en ‘n vervanging van haar afrigter besluit het om nie aan die Asiese skof van die WTA-toer deel te neem nie. Die eindtoernooi begin op 2 November in Rijaad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-967-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….