Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa dring aan op vrede en bestendigheid te midde van toenemende konflik in die Midde-Ooste
# BRICS-leiers aanvaar die Kazan-beraadsverklaring
# En, rugby: Johan Grobbelaar en Wilco Louw word opgeroep vir die Bokke se toer volgende maand
# President Cyril Ramaphosa vra vrede en bestendigheid te midde van toenemende konflik in Gaza, die Wesoewer en Libanon. Hy het tydens die 16de BRICS-beraad in Kazan, Rusland, sy diepe besorgdheid uitgespreek oor toenemende militêre bedrywighede in die Midde-Ooste en versoek die internasionale gemeenskap, veral die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, om aandag te gee aan die groeiende krisis. Ramaphosa waarsku ‘n verdere toename in die konflik sal ernstige globale gevolge hê:
Die leiers van BRICS, Suid-Afrika, Brasilië, Rusland, Indië en China, het intussen die verklaring van die Kazan-beraad aanvaar, wat die uitkomste van die vergadering opsom. Die Russiese president, Vladimir Putin, het voorgestel die verklaring word aanvaar. Die volledige verklaring sal die uitbreiding van BRICS en internasionale kwessies uiteensit, insluitend ‘n verklaring oor die krisis in Oekraïne, wat sonder teenstem aanvaar is. Die beraad was ‘n mylpaal aangesien Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate as nuwe, volle lede teenwoordig was.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om ‘n nasionale spitsberaad saam te roep oor voedselveiligheid. Daar was ‘n vlaag voedselvergiftigingsvoorvalle in Gauteng en ander provinsies, wat gelei het tot die dood van ses kinders in Soweto. Die kinders het volgens berigte snoeperye gekoop by ‘n spazawinkel. Makaneta sê sterker protokolle oor voedselveiligheid is nodig om te keer dat besmette kos in skole beland:
# Die Persraad het Independent Media uitgeskop omdat hulle weier om aan beslissings te voldoen, insluitend die terugtrek van ‘n rubriek wat die joernalis, Karyn Maughan, met ‘n Nazi-propagandis vergelyk. Ten spyte van ‘n opdrag om verskoning te vra, het die groep aan die raad onttrek. Die voorsitter, regter Fritz Brand, sê die verset is onaanvaarbaar. Adjunkvoorsitter Amina Frense het aan Newzroom Afrika gesê die raad bly onafhanklik en deursigtig:
# Rugby: Johan Grobbelaar en Wilco Louw is opgeroep om by die Springbok-groep aan te sluit vir volgende maand se toer. Dit volg nadat die voorspeler Jan-Hendrik Wessels weens ‘n besering onttrek het. Hy het verlede Saterdag sy enkel beseer in die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met Scarlets. Grobbelaar en Louw se insluiting vergroot die groep tot 35 spelers, bestaande uit 19 voor- en 16 agterspelers. Afrigter Rassie Erasmus sê hy is opgewonde om te sien hoe die twee presteer teen gehalte-teenstanders in Skotland, Engeland en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-863-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….