Nuus 07:00
BULLETIN 24 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Onderwys het geen planne om die 30-persent slaagsyfer te skrap nie
# Die Parlement se Polisiekomitee aanvaar ’n raamwerk oor afpersing
# En die Valke sê hulle verwag nog arrestasies in die Liebenberg-saak
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê daar is nie onmiddellike planne om die matriek-slaagsyfer van 30- na 50-persent te verhoog nie. Sy wil ‘n raadgewende raad aanstel om hervormings in die onderwyssektor te lei. Build One South Africa het vroeër gevra vir ‘n minimum-slaagsyfer van 50-persent omdat laer standaarde leerders se toekomsvooruitsigte skaad. Gwarube sê enige verandering sal kenners se menings en ooreenstemming met internasionale standaarde verg.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het eenparig ‘n oorsigraamwerk aanvaar om ingrypings om die toenemende vlaag afpersingsvoorvalle te hanteer, meer gefokus en beter te monitor. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, het in Julie verlede jaar onthul die konstruksiemafia kos die ekonomie sowat 68-miljard-rand. Die komitee sê ʼn ingrypingsplan met voldoende hulpbronne is nodig om seker te maak ervare beamptes word ontplooi wat die vermoë het om die huidige probleem doeltreffend te bestry.
# Die Valke het bevestig nog mense kan in hegtenis geneem word in verband met ‘n diamantbeleggingskema van vier-miljard-rand. Nege mense, insluitend die diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, is agter tralies. Hulle verskyn vandag in die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng, op aanklag van bedrog, diefstal, geldwassery en rampokkery. Philani Nkwalase van die Valke het aan Newzroom Afrika gesê beleggers is sedert 2019 ingeloop:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa hou vandag ‘n plakkaatbetoging by Denel se kantore in Centurion, Gauteng, omdat bestuur die afgelope vyf jaar al weier om salarisverhogings toe te staan. Die vakbond skryf dit toe aan die regering se poging om die wapenvervaardiger te privatiseer. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola beweer werkers is toenemend onder druk weens salaris-agteruitgang wat talle finansieel en sielkundig verpletter het:
# Die Libanese militante groep Hizbollah het bevestig ʼn moontlike opvolger vir sy ontslape leier, Hassan Nasrallah, is byna drie weke gelede in ʼn aanval in Beirut dood. Die Israelse Weermag het Dinsdagaand bekendgemaak dat Hashem Safieddine dood is toe hulle Hizbollah se ondergrondse intelligensie-hoofkwartier aangeval het. Safieddine was die leier van die groep se uitvoerende raad en Nasrallah se neef. Die IDF het Safieddine jare lank beskuldig van terroriste-aanvalle teen Israel. Hizbollah moet nog ʼn opvolger vir Nasrallah aanwys.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, glo draaiboulers sal ʼn belangrike bydrae lewer in die derde en laaste toets teen Pakistan in Rawalpindi, wat vandag begin. Engeland het die eerste toets met ʼn beurt en 47 lopies gewen voordat Pakistan die reeks in Multan gelykop gemaak het met ʼn sege van 152 lopies op ʼn blad wat draaiboulers bevoordeel. Pakistan sal na verwagting ʼn soortgelyke kolfblad in Rawalpindi skep. Stokes sê hy sal die drie draaiboulers in die groep ondersteun:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23 -rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-221-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-724-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….