Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming van Louis Liebenberg en medebeskuldigdes in die beweerde bedrogspul van vier-miljard-rand
# COSATU verwelkom die daling in inflasie en versoek die Reserwebank om die terugkoopkoers te verlaag
# En, die Statebondspele: Indië is ontsteld oor die weglating van sommige van sy gunsteling sportsoorte in Glasgow
# Die DA verwelkom die inhegtenisneming van Louis Liebenberg, sy vrou Dezzi en sewe medewerkers weens hulle beweerde betrokkenheid by ‘n bedrogspul met diamantbeleggings van vier-miljard-rand. Liebenberg her onder meer Jacob Zuma se regsgedinge befonds. DA-woordvoerder, Willie Aucamp, loof die rol van die voormalige parlementslid, Veronica van Dyk, wat ondanks intimidasie en hofsake, die skema ontmasker het:
# COSATU het die daling in verbruikersinflasie van 4,4-persent tot 3,8-persent verwelkom en sê dit bied verligting aan sukkelende werkers. Matthew Parks van die vakbondfederasie doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die terugkoopkoers met minstens 50 basispunte te verlaag om die skuldlas te verlig. Hy vra ook staatsingryping om Eskom bestendig te kry en brandstofpryse te verlaag:
# ‘n Bakteriële besmetting was verantwoordelik vir die dood van minstens nege ape in ‘n dieretuin in Hongkong. Die owerhede sê hulle is aan bloedvergiftiging dood nadat hulle melioïdose opgedoen het. Die bakterieë wat in die diere se organe gevind is, het waarskynlik van die grond naby hul habitat gekom. Die bakterieë wat hierdie siekte veroorsaak is algemeen in klam kleigrond. Mense sowel as diere kan geraak word, maar dit is onwaarskynlik dat dit van diere na mense oorgedra sal word. Die soogdierafdeling is afgesper as voorsorgmaatreël.
# Statebondspele: Indië is sielsongelukkig omdat sommige van die sportsoorte waarin hy gewoonlik goed vaar, weggelaat is vir die Spele wat vir 2026 in Glasgow beplan word. Dit is gedoen om geld te bespaar nadat die Australiese deelstaat Victoria as gasheer onttrek het. Ander stede en lande was ook nie bereid om die Spele aan te bied nie, voor die Skotse stad ingestem het. Slegs 10 sportsoorte sal aangebied word. Gedurende die Spele in Birmingham in 2022 het Indië 30 medaljes verower in items wat nie in Glasgow aangebied sal word nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-542-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-729-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Standard Bank-ontleding het onthul byna die helfte van salaristrekkers het minder as ‘n duisend-rand oor of worstel met negatiewe saldo’s teen betaaldag. Vier-honderd-en-twee-duisend mense het aan die ontleding deelgeneem, wat bevind het 21-persent het ‘n duisend-rand of minder gehad en 28-persent was in die rooi. Die hoof van Persoonlike en Privaat Bankdienste, Kabelo Makeke, beklemtoon die behoefte aan beter finansiële bestuurstrategieë om leefstylinflasie te bekamp. Hy doen ‘n beroep op mense om voorkeur te gee aan begrotings en noodbesparings vir finansiële bestendigheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….