Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra BRICS om die hervorming van die VN-Veiligheidsraad te versterk en globale vrede te handhaaf
# Die DA verwerp Ramaphosa se uitbeelding van Rusland as ‘n waardevolle bondgenoot
# En, krieket: Bangladesj het ‘n voorsprong van 81 lopies ná die derde dag van die eerste toets teen die Proteas
# President Cyril Ramaphosa het tydens die 16de BRICS-beraad in Kazan, Rusland, gevra vir sterker globale samewerking en die hervorming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Hy het BRICS-lande aangemoedig om vrede en ontwikkeling te bevorder en het sy steun vir Palestynse regte uitgespreek. Ramaphosa sê die huidige struktuur kon nie daarin slaag om die wêreldgemeenskap se belange te verteenwoordig nie en was ondoeltreffend in die handhawing van internasionale vrede en veiligheid:
Die DA sê intussen Ramaphosa se uitlatings oor Rusland wat ‘n waardevolle bondgenoot is, kan Suid-Afrika se internasionale betrekkinge en ekonomiese groei benadeel. Die DA, deel van die regering van nasionale eenheid, stem nie saam met ‘n outoritêre regime soos Rusland nie, weens sy betrokkenheid by die oorlog in Oekraïne. Die DA-leier, John Steenhuisen, het die regering versoek om instemming oor buitelandse beleidsbesluite te verseker wat sal verhoed dat handel en internasionale betrekkinge in gevaar gestel word.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het bevestig dokumente wat aan Chidimma Adetshina se ma behoort, is gekanselleer. Schreiber het aan die SABC gesê Adetshina, tans Mej Heelal Nigerië, is nie skuldig aan immigrasie-oortredings nie, aangesien sy destyds ‘n baba was. Adetshina het aan die Mej SA-kompetisie onttrek te midde van ondersoeke oor haar burgerskap. Die minister sê die Valke het die saak nou oorgeneem:
# Krieket: Bangladesj het ‘n voorsprong van 81 lopies ná die derde dag van die eerste toets teen Suid-Afrika in Mirpur. Die gashere het ‘n eerstebeurt-agterstand van 202 lopies gehad, maar Mehidy Hasan Miraz het vasgeskop met ‘n onoorwonne 87, terwyl Jaker Ali 58 lopies bygedra het en Mahmudal Hasan Joy 40. Bangladesj hervat môre sy tweede beurt op 283 vir sewe nadat Kagiso Rabada vier paaltjies laat kantel het en Keshav Maharaj drie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-309-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-748-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die vlieginstrukteur wat akteurs vir Top Gun: Maverick van 2022 opgelei het, is dood in ‘n ongeluk met ‘n ligte vliegtuig tydens ‘n lugskou in Nieu-Mexiko. Charles Thomas “Chuck” Coleman was alleen aan boord van die tweesitplek-eendekker en het neergestort terwyl hy kunstoertjies uitgevoer het. Hy was ‘n ingenieur, kuns- en toetsvlieënier met meer as tien-duisend vliegure. As die instrukteur van akteurs in Top Gun, met Tom Cruise, het hy meer as 100 vlugte onderneem om die spelers voor te berei vir die F-18 Hornets van die Amerikaanse Vloot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….