Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# De minister van Binnelandse Sake bevestig die kansellasie van Adetshina se ma se dokumente
# Die DA eis Sadou moet ‘n massavergadering afstel wat in eksamentyd geskeduleer is
# En, sokker: Fifa word daarvan beskuldig dat hy nie voormalige spelers betaal wie se klubs nie hulle kontrakte eerbiedig nie
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het bevestig dokumente wat aan Chidimma Adetshina se ma behoort, is gekanselleer. Schreiber het aan die SABC gesê Adetshina, tans Mej Heelal Nigerië, is nie skuldig aan immigrasie-oortredings nie, aangesien sy destyds ‘n baba was. Adetshina het aan die Mej SA-kompetisie onttrek te midde van ondersoeke oor haar burgerskap. Die minister sê die Valke het die saak nou oorgeneem:
# Die DA in Gauteng eis die onderwysersvakbond Sadou moet ‘n massavergadering afstel wat tydens die belangrike matriek-eindeksamen geskeduleer is. Die vergadering, wat vandag by die Laerskool Floridalaan in Soweto gehou word, sal beteken onderwysers moet leerders sonder toesig laat terwyl hulle eksamen skryf. Die DA-lid, Sergio Isa dos Santos, het die Gautengse Onderwysdepartement gekritiseer omdat hulle toestemming verleen het vir die vergadering. Hy waarsku dat die saak moontlik na die Menseregtekommissie verwys kan word:
# Die Parlement het eenparig ’n mosie aanvaar wat vra vir die onmiddellike vrylating van Frik Potgieter en Peter Huxham. Die Suid-Afrikaanse ingenieurs word reeds vir 621 dae in Ekwatoriaal-Guinee gevange gehou. Hulle is in hegtenis geneem op twyfelagtige aanklagte van dwelmhandel nadat daar in Suid-Afrika beslag gelê is op die luukse bates van die visepresident van Ekwatoriaal-Guinee. Die woordvoerder van die gesinne, Shaun Murphy, het sy dank uitgespreek vir die ondersteuning en versoek die publiek om hul saak te ondersteun:
# Sokker: Die wêreld-beheerliggaam, Fifa, word daarvan beskuldig dat hy nie voormalige Europese spelers betaal wie se klubs nie hulle kontrakte eerbiedig nie. Fifa skuld glo 420 spelers hulle laaste uitbetaling van altesaam 66-miljoen-rand en dit was in September verlede jaar betaalbaar. Die geld was veronderstel om uit Fifa se Spelersfonds betaal te word, wat in 2020 gestig is. BBC Sport berig baie van die spelers wat geraak word, is nou werkloos of het uitgetree en het die geld dringend nodig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-478-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Waarnemende president Paul Mashatile het ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 afgekondig ter ere van die voormalige minister van Arbeid, Membathisi Mdladlana. Die begrafnis vind Saterdag in Kaapstad plaas, met seremoniële elemente deur die polisie. Landsvlae sal van vandag tot die aand van die begrafnis halfstok hang. Die 72-jarige voormalige skoolhoof het in Suid-Afrika se eerste demokratiese Parlement gedien en is deur Nelson Mandela as minister van Arbeid aangestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….