Nuus 11:00
BULLETIN 23 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering ontken Chinese druk in die verskuiwing van Taiwan se kantoor uit Pretoria
# Agt verdagtes is vasgetrek vir ‘n vermeende diamantbedrogspul
# En, Donald Trump beskuldig die Britse Arbeidersparty van verkiesingsinmenging
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ontken ten sterkste dat China die regering onder druk geplaas het om te beveel dat Taiwan se kantoor van Pretoria na Johannesburg verskuif. Taiwan se minister van Buitelandse Sake, Lin Chia-lung, beskuldig Suid-Afrika dat hy ‘n ooreenkoms van 1997 tussen die twee lande skend. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, het aan Newzroom Afrika gesê Suid-Afrika het in 1997 politieke en diplomatieke bande met Taiwan verbreek in ooreenstemming met Resolusie 2758 van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering:
# ‘n Onlangse gidsstudie deur die Instituut vir Sekerheidstudies beweer bewysgebaseerde wetstoepassing is deurslaggewend om stygende misdaadsyfers aan te pak. Senior navorser Vanya Gastrow glo data-gedrewe strategieë is die sleutel tot misdaadvermindering ondanks toenemende polisiepatrollies,. Sy beklemtoon geteikende, navorsinggerigte optrede en gefokusde benaderings is noodsaaklik vir doeltreffende wetstoepassing in Suid-Afrika:
# Agt verdagtes wat na bewering betrokke was by ʼn vyf jaar lange diamantbeleggingskema, is in Noordwes en Gauteng vasgetrek. ʼn Multidissiplinêre operasie onder leiding van die Noord-Kaapse Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het tot die inhegtenisnemings gelei. Die Valke se woordvoerder, Philani Nkwalase, sê die verdagtes sluit ʼn egpaar in wat volgens berigte die meesterbrein agter die skelmstreek was:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika het ʼn klagte by die Federale Verkiesingskommissie ingedien waarin hy die Britse Arbeidersparty beskuldig dat hy by die verkiesing inmeng. Sy verkiesingsveldtog beweer die Arbeidersparty het die afgelope weke partylede gewerf en gestuur om namens sy teenstander, adjunkpresident Kamala Harris, ʼn veldtog te voer om die verkiesing op 5 November te beïnvloed. Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, sê partybeamptes wat vrywillig vir Harris help, doen dit in hul vrye tyd en nie namens die Arbeidersparty nie.
# Rugby: Die All Blacks het ‘n nuwe kaptein vir Saterdag se toets teen Japan. Die slot Patrick Tuipulotu sal die span aanvoer terwyl die gereelde kaptein, Scott Barrett, nie na Yokohama reis nie. Damian McKenzie vervang Beauden Barret op losskakel en die skrumskakel, Cam Roigard, speel die eerste keer vanjaar vir die span. Die gewese kaptein, Sam Cane, begin as losvoorspeler in sy 101ste toets. Nieu-Seeland se jaareindtoer sluit ook toetse teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-842-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….