Nuus 09:00
BULLETIN 23 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die SAL-direksie sê die lugdiens sal nie geprivatiseer word nie
# Die diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou is gearresteer
# En die Israelse weermag sê hy het die volgende moontlike Hizbollah-leier doodgemaak
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se raadsvoorsitter, Derek Hanekom, sê daar is geen planne om die lugredery te privatiseer nie. ‘n Verwagte vennootskap met die Takatso-konsortium het in Maart misluk. Dit sou SAL ʼn hupstoot van drie-miljard-rand gegee het. Hanekom het aan die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die SAL is tans sonder skuld, maar ernstige beleggings is nodig vir sy langtermyn-planne:
Die diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, is gisteraand deur die Valke in hegtenis geneem by die Tonino-restaurant van die Benoni-buiteklub. Liebenberg se nuusagentskap Die Waarheid Media het die nuus bekendgemaak. Lede van die Valke het die Liebenbergs se inhegtenisneming aan Netwerk24 bevestig. Die egpaar sou luidens die berigte die nag in die polisieselle deurbring. Die klagte teen hulle is nie in hierdie stadium bekend nie. Hulle sal eersdaags in die hof verskyn.
# Cosatu in Gauteng het die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, se versoek vir meer gesondheidsinspeksies by spazawinkels in die provinsie verwelkom. Ses kinders is vroeër die maand in Soweto dood nadat hulle vermoedelik giftige lekkernye by ʼn plaaslike spazawinkel gekoop het. Cosatu-woordvoerder Amos Monyela sê hulle is moedeloos oor die tyd wat dit neem om ondersoeke af te handel omdat dit belangrik is om die bron van die besmetting so gou as moontlik op te spoor:
# Die Israelse weermag sê hy het Hashem Safieddine – ‘n moontlike opvolger vir die ontslape Hizbollah-leier Hassan Nasrallah – drie weke gelede in ‘n aanval in Beirut in Libanon doodgemaak. Safieddine is dood in Israel se lugaanval op Hizbollah se ondergrondse intelligensie-hoofkwartier. Die IDF sê meer as 25 lede van Hizbollah was tydens die aanval in die hoofkwartier, insluitend die hoof van die groep se intelligensietak, Ali Hussein Hazima, wat ook in die aanval dood is. Hizbollah het nie die weermag se aanspraak bevestig nie.
# Sokker: Vinicius Junior het ‘n driekuns vir die verdedigende kampioen aangeteken in Real Madrid se kragmeting teen Borussia Dortmund wat reeds met vyf-twee in die Santiago Bernabeu-stadion voorgeloop het. Die kaptein, Lucas Vazquez, en Antonio Rudiger het ook doele vir die Spaanse kampioene aangeteken. Arsenal het Shakhtar Donetsk een-nul in die Emirate geklop met ‘n eie doel deur die doelwagter Dmytro Riznyk. Aston Villa het nou drie oorwinnings behaal nadat John McGinn en Jhon Duran hulle met twee-nul oor Bologna laat seëvier het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-67-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….