Nuus 06:00
BULLETIN 23 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA doen ‘n beroep op president Ramaphosa om vinnig op te tree in die Thembi Simelane-kwessie
# Die EFF beskuldig die regering dat hy Transnet doelbewus in duie laat stort het
# En Siya Kolisi en sy vrou Rachel se paaie skei
# Die DA se woordvoerder, Glynnis Breytenbach, het president Cyril Ramaphosa versoek om die voortslepende skandaal waarby die minister van Justisie, Thembi Simelane, betrokke is, aan te spreek. Breytenbach is bekommerd omdat daar drie maande nadat dit bekend geraak het, nog niks gedoen is nie oor die twyfelagtige lening wat Simelane van Gundo Wealth Solutions ontvang het en wat verband hou met die VBS Mutual Bank-skandaal. Breytenbach beweer dit wek ernstige kommer oor Simelane se rol en ondermyn die regstelsel se integriteit. Sy eis deursigtigheid en vinnige optrede om openbare vertroue en die geloofwaardigheid van regsinstellings te beskerm.
# Die EFF sê dit is duidelik dat Transnet op die randjie van ineenstorting is. Dit is ten spyte daarvan dat die minister van Vervoer, Barbara Creecy, aan die Parlement se staande komitee oor openbare rekeninge gesê het die staatsonderneming is op pad na herstel. Transnet het teen einde Maart 2023 ‘n verlies van 7,3-miljard-rand gerapporteer, maar voorspel ‘n wins van een-miljard-rand vir volgende jaar indien die privaat sektor help. Mazwi Blose van die EFF beskuldig die regering dat hy Transnet doelbewus in duie laat stort het:
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het inwoners gevra om waaksaam te bly terwyl swaar reën oral in die provinsie oorstromings veroorsaak. Hulpsentrums huisves mense wat hulle huise moes ontruim, en ‘n oranje vlak 6-waarskuwing bly van krag. Mabuyane het die dood van ‘n 70-jarige man bevestig wat in stygende water vasgekeer is. Hy het inwoners verseker die provinsie steun ontheemde gesinne:
# Amerika gaan volgende week reeds streng nuwe sanksies instel wat gerig is op lande wat Rusland se weermag steun. Die minister van Finansies, Janet Yellen, sê die nuwe sanksies is gemik op diegene wat die Kremlin se oorlogsmasjien aan die gang hou, asook tussengangers in ander lande wat Rusland van kritieke insette vir sy weermag voorsien. Haar verklaring kom terwyl die wêreld se finansiële leiers vandeesweek in Washington byeen is vir die jaarvergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank. BRICS-lande vergader terselfdertyd in Rusland.
# Rugby: Die Springbok-vroue gaan teen Brasilië speel in hulle eerste Groep D-wedstryd in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Die kragmeting in Northampton op 24 Augustus word gevolg deur groepswedstryde teen Italië in York en Frankryk, ook in Northampton. Die gasvroue pak Amerika op 22 Augustus in die openingswedstryd in Sunderland naby Newcastle, en die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, speel twee dae later in York teen Spanje. Die eindstryd vind op 27 September in Londen plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 22 -rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-480-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-747-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-56-sent per vat.
# En ten skotte: Die Springbokkaptein Siya Kolisi en sy vrou Rachel het aangekondig dat hulle ná nege jaar besluit het om te skei. Hulle is in 2016 getroud en het twee kinders. In ‘n gesamentlike verklaring sê hulle die besluit is geneem uit liefde, respek en begrip dat dit die beste pad vorentoe vir beide van hulle is. Hulle sê hulle belowe om in die kinders se beste belang goeie vriende te bly en steeds saam te werk aan die Kolisi-stigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….