Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vryheidspark verwerp ‘n aansoek van Afrikaanse organisasies vir ‘n betoging
# Cosatu eis Gwamanda se onttrekking van raadspligte ná bewerings van versekeringsbedrog
# En, rugby: Vier Wêreldbeker-wenners is terug in die Springbok-groep vir die November-toer
# Vryheidspark in Pretoria het ‘n aansoek van Afrikaanse organisasies verwerp vir ʼn vreedsame versetoptog teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette wat vir 5 November beplan word. Die Solidariteitsbeweging het daarop die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, versoek om in te gryp. Die optrede is gemik teen gedeeltes van die nuwe onderwyswet wat skoolbeheerliggame se beheer oor toelatings en taalbeleid beperk. AfriForum het met regsoptrede begin en vra regstreekse gesprekke met die Presidensie om te verseker die optog gaan voort.
# Cosatu in Gauteng dring daarop aan dat die voormalige Johannesburgse burgemeester, Kabelo Gwamanda, te midde van bedrogaanklagte onthef word van sy rol as burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling. Hy is onlangs in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat ná bewerings oor ‘n onwettige skema vir begrafnisversekering in 2012. Cosatu se provinsiale voorsitter, Amos Monyela, het Gwamanda gevra om opsy te staan tot die regsproses opgelos is, in ooreenstemming met die optrede van ander staatsamptenare wat soortgelyke aanklagte teen hulle het:
# Die DA eis die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, moet die leefstyloudit van die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, dringend publiseer. Dit kom te midde van bewerings van ‘n bedrogsaak van 27-miljoen-rand wat met die ANC-lid, Pule Mabe, verbind word. Chiloane word daarvan beskuldig dat hy 185-duisend-rand met ‘n bedrieglike voertuigtender aanvaar het tydens sy vorige rol in Ekurhuleni. Die DA se woordvoerder, Sergio Isa dos Santos, kritiseer Lesufi vir sy stilswye en versuim om op te tree, wat kommer laat ontstaan oor moontlike nalatigheid of pogings om korrupsie toe te smeer:
# Verkiesingswaarnemers van die Europese Unie het onreëlmatighede opgemerk in die uitslag van Mosambiek se algemene verkiesing, wat die opposisie tans betwis. Onluste-polisie in die hoofstad, Maputo, het gister traanrook afgevuur om ‘n skare uiteen te jaag wat betoog het teen beweerde bedrog in die presidents- en parlementêre verkiesing op 9 Oktober. Twee medewerkers van die opposisie-presidentskandidaat, Venancio Mondlane, is vroeër doodgeskiet. Die EU se waarnemingsending sê onreëlmatighede is opgemerk tydens die tellery, asook ongeregverdigde wysigings van verkiesingsuitslae op stemlokaal- en distriksvlak.
# Rugby: Vier Wêreldbeker-wenners, Damian Willemse, André Esterhuizen, RG Snyman en Franco Mostert, maak ʼn welkome terugkeer na die Springbok-groep vir volgende maand se toer. Afrigter Rassie Erasmus het ʼn groep van 34 spelers aangekondig om op 10 November teen Skotland in Edinburgh te speel, op 16 November teen Engeland in Londen en ʼn week later teen Wallis in Cardiff. Kaptein Siya Kolisi en die groep vertrek Sondag vir ʼn oefenkamp in Jersey. Sacha Feinberg-Mngomezulu, Salmaan Moerat, Steven Kitshoff en Lood de Jager is weens beserings nie oorweeg nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-200-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-735-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….