Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: ‘n Rooikaart aan die Bulle is die tweede agtereenvolgende week opgehef. Die Italiaanse skeidsregter Federico Vedovell het die Springbok-haker Johan Grobbelaar Vrydag afgestuur vir ʼn gevaarlike duikslag tydens die Pretoriase span se nederlaag van 22-23 teen Scarlets in Wallis. ʼn Tugkomitee van die Verenigde Rugbykampioenskap het die rooikaart egter na geel verander. Dit volg nadat David Kriel se rooikaart wat hy die vorige naweek teen Ospreys gekry het, opgeskort is. Die Bulle speel die naweek hulle derde toer-wedstryd in Treviso teen Benetton.
Die All Black-senter David Halili sê intussen hulle is lugtig vir Eddie Jones se invloed wanneer hulle Saterdag in Yokohama teen Japan speel. Die gewese Wallaby-afrigter het ooswaarts uitgewyk na sy rampspoedige verblyf in Australië, wat verlede jaar die eerste keer ooit nie die Wêreldbekertoernooi se uitklopronde gehaal het nie. Havili sê hulle sal bedag wees op Japan se flair en Jones se oorspronklike afrigtersvaardighede. Nieu-Seeland reis na die naweek na Europa vir toetse teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië.
# Vervolgens, krieket: ‘n Briljante honderdtal deur Kyle Verreyne het Suid-Afrika ‘n eerstebeurt-voorsprong van 202-lopies oor Bangladesj besorg op die tweede dag van die eerste toets in Mirpur. Die Proteas het die gashere gister vir net 106 uitgeboul, maar die besoekers het daarna hulle sesde paaltjie verloor met ‘n voorsprong van slegs twee lopies. Verreyne, eers bygestaan deur Wiaan Mulder en toe deur Dane Piedt, het die telling tot 308 geneem voordat hy op 114 gestonk is. Mulder het 54 bygedra en Piedt 32, terwyl Taijul Islam vyf paaltjies geneem het.
Engeland se witbal-kaptein, Jos Buttler, gaan intussen die komende internasionale eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande misloop ná ʼn terugslag met sy kuitbesering. Hy het sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Junie nog nie weer aan ʼn mededingende kompetisie deelgeneem nie. Buttler sal in Barbados by die groep aansluit en hoop om in die reeks van vyf T20’s te speel. Die veelsydige Liam Livingstone sal die span in Buttler se afwesigheid aanvoer, terwyl die nuweling-paaltjiewagter Michael Pepper by die eendaggroep aangesluit het.
# Ons sluit af met sokker: Hoofafrigter Mikel Arteta het Arsenal gevra om die pyn van hulle eerste nederlaag in ses maande te gebruik as motivering in vandag se Kampioeneliga-wedstryd teen Shakhtar Donetsk. Die Gunners het Saterdag onverwags 2-nul teen Bournemouth verloor, wat hulle hul plek boaan die Premierliga-punteleer gekos het, en is nou vier punte agter Liverpool. Arteta het op ‘n nuuskonferensie gesê hulle is nie paniekerig na hulle eerste nederlaag sedert April nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….