Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verloor sy Verkiesingshofsaak oor Ramaphosa se toespraak aan die land kort voor die verkiesing
# Twee bykomende beskuldigdes in die Lusikisiki-massamoord verskyn in die hof
# En, tennis: Aryna Sabalenka vervang Iga Swiatek bo-aan die wêreldranglys
# Die DA het sy saak in die Verkiesingshof teen president Cyril Ramaphosa verloor. Die party het hom beskuldig dat hy sy amp misbruik het tydens ‘n nasionale toespraak net drie dae voor die verkiesing op 29 Mei. Die DA het aangevoer die toespraak was stemwerwery, maar die hof het bevind daar is geen bewyse kiesers is beïnvloed of die regverdigheid van die verkiesing was in gedrang nie. Die hof het bevind Ramaphosa het sy grondwetlike plig nagekom om die publiek in te lig. Elke party sal sy eie regskoste betaal.
# Twee bykomende beskuldigdes is gevoeg by die Lusikisiki-massamoord-saak in die Oos-Kaap. Hulle sal volgende Donderdag weer in die plaaslike Landdroshof verskyn, waar hulle by die vier ander beskuldigdes sal aansluit. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Luxolo Tyali, sê Zenande Paya en Mawethu Nomdlembu is in Flagstaff in hegtenis geneem met vier gewere en ammunisie wat glo gebruik is in verlede maand se menseslagting in die Ngobozana-dorpie waarin 18 mense dood is:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die Lesotho-hooglandwaterprojek-tonnel se onderhoud-operasies wat volgens beplanning in Maart 2025 voltooi sal wees, verloop goed sedert die sluiting van die tonnel vroeër die maand. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die tonnels se water is gedreineer en die proses van drooglegging het ‘n volle week geduur. Sy sê water uit die tonnels is in die Caledon- en die Klein-Caledon-rivier in die Vrystaat gestort:
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sê sy is vasbeslote om minstens tot die einde van die jaar die wêreld se nommer een-vrouespeler te bly. Sy het Iga Swiatek vandag bo-aan die ranglys vervang nadat die Pool verskeie toernooie misgeloop het weens uitputting en omdat sy van afrigter verander het. Sabalenka was verlede jaar agt weke in die eerste plek voordat Swiatek haar weer verbygesteek het. Volgende maand se WTA-jaareindtoernooi in Saoedi-Arabië sal waarskynlik deurslaggewend wees om te bepaal wie die jaar as nommer-een gaan eindig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-506-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, het die regering versoek om die Noordwes-Universiteit na die Lucas Mangope-Universiteit te hernoem ter ere van sy bydraes tot onderwys in Suid-Afrika. Hy word deur sommige as ‘n diktator beskou, maar Makaneta het gewys op Mangope se kennis en toewyding aan akademiese uitnemendheid en gemeenskapsontwikkeling. Hy sê om die universiteit te hernoem, sal erkenning gee aan sy rol in die vorming van die onderwyslandskap en toekomstige geslagte inspireer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….