Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG laat vaar aanklagte teen een van die beskuldigdes in die Joslin Smith-saak
# Tagtig gesondheidsinspekteurs ondersoek die vlaag voedelvergiftigings-gevalle in Gauteng
# En, krieket: Kagiso Rabada word die derde vinnigste Suid-Afrikaner om 300 paaltjies plat te trek
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die aanklagte laat vaar teen die vierde beskuldigde in die saak van die vermiste Joslin Smith. Lorentia Lombaard het vandag saam met Joslin se ma, Kelly Smith, en haar medebeskuldigdes, Jacquin Appollis and Steveno van Rhyn, in die Landdroshof in Vredenburg aan die Weskus verskyn. Die drietal word aangekla van mensehandel en ontvoering. Die volgende hofverskyning is op 31 Januarie vir voorverhoor-verrigtinge. Joslin het op 19 Februarie in Saldanhabaai verdwyn terwyl sy in die sorg van Appollis, haar ma se kêrel, was.
# Die Departement van Gesondheid het ‘n span van 80 gesondheidsinspekteurs in Soweto ontplooi om chemiese middels te soek wat moontlik voedselvergiftiging veroorsaak het. Gauteng het die afgelope tyd ʼn vlaag gevalle van dié siekte beleef waarin ses kinders in Soweto dood is. Die betrokke kinders het volgens berigte lekkernye by ʼn spazawinkel gekoop. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die inspekteurs is opgelei en begin vandag met hulle taak:
# Die Referendum-party vra die regering van nasionale eenheid om ‘n openbare en ondubbelsinnige verklaring uit te reik wat bevestig hy erken die Taiwannese mense se reg tot selfbeskikking. Dit gebeur nadat Suid-Afrika Taiwan aangesê het om sy ambassade uit Pretoria te verskuif, volgens berigte glo op aandrang van China. Die president van die Referendum-party, Phil Craig, sê Suid-Afrika streef na die verdere afsondering van die mense van Taiwan:
# Krieket: Die snelbouler Kagiso Rabada het die derde vinnigste Suid-Afrikaner naas Dale Steyn en Allan Donald geword om 300 toetspaaltjies te laat kantel. Hy het die prestasie behaal toe die Proteas Bangladesj vandag vir net 106 uitgeboul het op die eerste dag van die eerste toets in Mirpur. Die 29-jarige speler het ook die vinnigste bouler geword wat 300 toetspaaltjies plattrek volgens die aantal balle geboul. Hy het dié sukses behaal in 11-duisend-817 aflewerings. Rabada is voor die Pakistani Waqar Younis, Steyn en Donald.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-365-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-734-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Korrektiewe Dienste het bekendgemaak meer as 173 gevangenes in 18 korrektiewe sentrums begin vandag tot 28 November skryf aan hulle Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Woordvoerder Singabakho Nxumalo bevestig hulle het hulle leerplan betyds afgehandel en is dwarsdeur die jaar geassesseer. Hy benadruk ondersteuning, insluitend nuwe tegnologie, is beskikbaar om hulle by te staan en het leerders aangemoedig om hierdie geleentheid vir persoonlike ontwikkeling aan te gryp:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….