Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tagtig gesondheidsinspekteurs ondersoek die vlaag voedelvergiftigings-gevalle in Gauteng
# DA Gauteng sê Maatskaplike Ontwikkeling se gewese departementshoof word beloon met ‘n senior posisie in die Presidensie ondanks omkoop-bewerings
# En, krieket: Die Protea-kaptein erken hulle teenstanders was beter in die eindstryd van die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Departement van Gesondheid het ‘n span van 80 gesondheidsinspekteurs in Soweto ontplooi om chemiese middels te soek wat moontlik voedselvergiftiging veroorsaak het. Gauteng het die afgelope tyd ʼn vlaag gevalle van dié siekte beleef waarin ses kinders in Soweto dood is. Die betrokke kinders het volgens berigte lekkernye by ʼn spazawinkel gekoop. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die inspekteurs is opgelei en begin vandag met hulle taak:
# Die DA in Gauteng sê die voormalige hoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Shoki Tshabalala, werk nou as die adjunkdirekteur-generaal in die Departement van Vroue, Jeug en Mense met Gestremdhede ondanks haar beweerde betrokkenheid by wanadministrasie en korrupsie. Refiloe Nt’sekhe van die DA sê Tshabalala se vorige hoofde het nie hulle werk gedoen nie. Sy sê hulle moes seker maak sy word na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys vir strafregtelike ondersoek:
# Israel se minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, sê hulle gaan diplomatiese en regsoptrede teen Frankryk instel. Dit volg nadat Frankryk besluit het om Israelse maatskappye wie se wapens in Gaza en Libanon gebruik word, te verbied om volgende maand aan die toonaangewende vloot-wapenhandelskou in Parys deel te neem. Katz beskryf die boikot as ʼn maatreël teen demokrasie wat veral tussen vriendelike nasies onaanvaarbaar is. Die Franse president, Emmanuel Macron, het verlede maand ʼn wapenverbod teen Israel gevra.
# Krieket: Die kaptein van die Proteas, Laura Wolvaardt, erken Nieu-Seeland was beter as hulle in gister se eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Dubai. Die Kiwi’s het met 32 lopies gewen, en Suid-Afrika ‘n tweede agtereenvolgende loesing in ‘n eindstryd toegedien. Nieu-Seeland het 158 vir vyf in hulle 20 boulbeurte aangeteken en die Proteas daarna beperk tot 126 vir nege. Wolvaardt sê hulle het nie hulle beste krieket gespeel teen ‘n teenstander van gehalte nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-579-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-731-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika het reeds meer as sewe-duisend-megawatt hernubare energie wat met die netwerk verbind is, en meer as 20-gigawatt wat nog bygevoeg sal word. So sê die direkteur-generaal van Minerale Hulpbronne en Energie, Jacob Mbele. Die toename in hernubare energievermoë-byvoegings het verlede jaar die hoogste persentasie ooit van 33-persent bereik. Dit het ook die meeste byvoegings in Afrika suid van die Sahara gehad, met byna 40-persent van die streek se nuwe vermoë. Mbele sê die land moet voortgaan om natuurlike bronne te ontgin, te ontwikkel en voort te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….