Nuus 08:00
BULLETIN 21 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra BRICS om te help met die groei van Suid-Afrika
# Shamila Batohi sê die aanval op haar adjunk is noukeurig beplan
# En motorsport: Charles Leclerc wen die Amerikaanse Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is gereed om sy kant te bring om BRICS se ekonomiese potensiaal te ontwikkel. Dié nege lande, Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika, Egipte, Ethiopië, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate maak 27-persent uit van die wêreldwye groei van binnelandse produk en ‘n vyfde van die wêreld se uitvoere. Ramaphosa het die BRICS-sakeforum virtueel toegespreek en lande aangemoedig om deel te wees van Suid-Afrika en die res van die vasteland se groei:
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê die Staatsveiligheidsagentskap se weiering om Anton du Plessis se sekerheidsklaring toe te staan, word as wapen gebruik in ʼn polities gemotiveerde smeerveldtog. Volgens City Press het Batohi se adjunk nie die werwingsproses geslaag nie omdat hy Suid-Afrikaanse en Britse burgerskap het. Volgens berigte is die werwingsproses gestaak toe Du Plessis geweier het om sy Britse burgerskap op te gee. Batohi het aan News24 gesê die weiering van Du Plessis se sekerheidsklaring is ʼn poging om aandag af te lei en die Nasionale Vervolgingsgesag te destabiliseer.
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê saam met die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne en georganiseerde arbeid is hulle verbind tot die uitskakel van gesondheids- en veiligheidsvoorvalle in die mynbedryf. Sedert 1994 het die aantal sterfgevalle in myne met 88-persent afgeneem, met beserings wat 75-persent minder was. Die bedryf het in 2022 ‘n rekord-lae 49 sterfgevalle aangemeld. Die raad sê die nuwe veiligheidsmylpale vir die volgende tien jaar sluit in mynmaatskappye wat ‘n teiken het van geen sterftes nie en die vermindering van grondstortingsverwante aanmeldbare ongelukke teen 30-persent per jaar.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê hulle kan nie net buitelanders se spazawinkels sluit oor openbare ontsteltenis oor voorvalle van voedselvergiftiging nie. Die provinsiale Gesondheidsdepartement het tussen Februarie en September vanjaar 203 gevalle van voedselvergiftiging aangeteken waarin ses mense dood is. Maile sê buitelanders se winkels skep onregverdige kompetisie in die township-ekonomie:
# Motorsport: Charles Leclerc het die Amerikaanse Grand Prix gewen en spanmaat Carlos Sainz gelei na ʼn dominante een-twee vir Ferrari. McLaren-renjaer Lando Norris het die derde plek afgestaan aan sy teenstander Max Verstappen van Red Bull nadat hy met vyf sekondes gestraf is omdat hy buite die baanbeperking verbygesteek het. Norris was vierde en sy spanmaat Oscar Piastri vyfde. Verstappen het sy voorsprong as die bestuurderskampioen tot 57 punte vergroot met vyf wedrenne wat oorbly. Leclerc sê dit was vir hom ʼn gewone wedren:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-813-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-732-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-33sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….