Nuus 07:00
BULLETIN 21 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig matrieks aan met die aflegging van hul eindeksamen
# Die VSA ondersoek die uitlek van geklassifiseerde dokumente oor Israel se beplande aanval op Iran
# En Jeremy Clarkson ondergaan ‘n hartprosedure na ‘n skielike verswakking van sy gesondheid
# President Cyril Ramaphosa moedig matrieks aan om beter te doen as die voriges deur uit te blink in die eksamen. Meer as 800-duisend graad 12-leerders begin vandag hul Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen met Engels en Afrikaans Vraestel 3. Ramaphosa sê hierdie eksamen is nie ‘n struikelblok nie, maar ʼn stap in matriekleerders se voortgesette sukses en ʼn nuwe fase van hul lewens:
Die DA dra intussen ook sy beste wense oor aan die 2024-matriekklas. Delmaine Christians van die DA sê die party erken die harde werk en toewyding van beide leerders en onderwysers, en besef hulle staan voor uitdagings. Sy sê onderwys van goeie gehalte is die beste manier om te verseker dat jongmense uit armoede gelig word:
# Die families van die drie Lily-mynwerkers wat in 2016 dood is nadat hulle ondergronds vasgekeer is toe die myn ineenstort, sê hulle het hoop verloor dat die oorskot herwin sal word. Die families van Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda het Sondag ʼn gebedsdiens gehou om die twee-duisend dae te gedenk sedert hul waak buite die myn begin het. ʼn Voormalige mynwerker, Harry Mazibuko wat namens die families gepraat het, sê hulle wil net die drie begrawe met die waardigheid wat hulle verdien.
# Amerika stel ondersoek in nadat hoogs geklassifiseerde intelligensie oor Israel se beplande reaksie op Iran se hewige missielaanval vroeër die maand uitgelek het. Iran sê die aanval was uit wraak vir Israel se sluipmoord op senior Hamas- en Hizbollah-leiers, sy oorlog in Gaza en die aanval in Libanon. Die dokumente is afkomstig van die Amerikaanse Geopolitieke Intelligensie-agentskap en Nasionale Sekerheidsagentskap. Die uitlekvoorval kom terwyl voorberei word vir Israel se verwagte wraakaanval op Iran, wat aanvalle op ekonomiese infrastruktuur of olie-fasiliteite kan insluit.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Robin Williams het sy Fortress-uitnodigingstitel by Glendower-gholfklub in Gauteng suksesvol verdedig. Hy het met drie houe gemaklik gewen ná ʼn vyf-onder 67 om op 22 onder baansyfer klaar te maak. Daniel van Tonder was tweede met 19 onder baansyfer en Yurav Premlall en Keenan Davidse gesamentlik derde op 15 onder baansyfer. Williams sê hy het net probeer fokus op wat verlede jaar gewerk het en nie aan die voorloperbord gedink nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22 -rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-285-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-727-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Jeremy Clarkson het onthul hy het ‘n hartprosedure ondergaan nadat sy gesondheid skielik agteruitgegaan het. Dit is nie die eerste gesondheidskok vir die voormalige Top Gear-ster nie. Dokters het hom verlede jaar gewaarsku sy bloeddruk is te hoog. Die 64-jarige sê terwyl hy tydens sy vakansie geswem het, het dit al hoe moeiliker geword om trappe te klim, en sy simptome het erger geraak met sy terugkeer na Brittanje. Toetse, ondermeer ‘n elektrokardiogram, het ‘n hartaanval uitgeskakel. Een van sy slagare was egter heeltemal geblokkeer en ‘n stent is ingesit om dit oop te hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….