Nuus 06:00
BULLETIN 21 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Alles is gereed vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen
# Minstens 87 is dood in ‘n Israelse lugaanval in die noorde van Gaza
# En krieket: Nieu-Seeland klop Suid-Afrika om hul eerste T20 Wêreldbeker-titel vir vroue te wen
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar departement is gereed vir die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die matriekeksamen begin vandag met 882-duisend-336 kandidate van reg oor Suid-Afrika. ‘n Verdere 16-duisend-400 leerders van privaat skole en instansies sal die Onafhanklike Eksamenraad-eksamen aflê. Gwarube sê die eindeksamen is verteenwoordigend van ‘n gesamentlike poging deur die onderwysstelsel, skole, gemeenskappe en die departement:
Gwarube, sê ook om die integriteit van die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen te verseker, het die departement 70 deeltydse monitors ontplooi om toesig te hou oor hoërisiko-sentrums. Daarbenewens sal ten minste 70-persent van eksamensentrums per sessie gemonitor word. Die eksamenraad, Umalusi het 162 gehalte-versekerde vraestelle vir vanjaar se matriekeksamen goedgekeur. Gwarube sê hierdie pogings sal help om onreëlmatighede soos groep-kopiëring of die uitlek van eksamenvraestelle te voorkom:
# Die EFF het die sabotasie van justisie en aanspreeklikheid deur die voormalige minister van Polisie Bheki Cele veroordeel, na sy gesloer van byna twee jaar om ‘n Valke-regter aan te stel. EFF-woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê dié pligsversuim het die Valke verhinder om interne korrupsie, wanoptrede en politieke inmenging te ondersoek. Sy sê Cele se weiering om regter Frans Kgomo se termyn te verleng en die gesloer om ‘n plaasvervanger aan te stel, het die kantoor van die Valke lamgelê sonder om enige bevindinge van korrupsie of wanoptrede vir ‘n volle boekjaar af te handel.
# Die voormalige burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, en nou die stad se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, het in die Protea-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat hangende verdere ondersoek. Gwamanda het in 2012 die iThemba Lama Afrika-begrafnisversekeringsmaatskappy bestuur en inwoners van Soweto het maandelikse bydraes gemaak vir begrafnisversekering. Die leier van Al Jama-ah Ganief Hendricks sê die party het Gwamanda geprys vir sy moed en samewerking in dié tydperk:
# Minstens 87 mense, insluitend kinders, is dood en meer as 40 beseer in ‘n Israelse lugaanval op Beit Lahia in die noorde van Gaza. Die Israelse Weermag beskryf dit as ‘n presisie-aanval teen ‘n Hamas-teiken. Israel beskuldig Hamas-owerhede daarvan dat hulle oordrewe slagoffersyfers bekendmaak. Die lugaanval volg nadat die Israelse weermag weer sy bedrywighede in noordelike Gaza verskerp het omdat Hamas volgens hom hergroepeer in die gebied. Intussen gaan Israel voort met sy aanslag teen Hizbollah in die suide van Libanon.
# Krieket: Nieu-Seeland het Suid-Afrika met 32 lopies geklop om die T20 Wêreldbeker vir vroue vir die eerste keer in Dubai te wen. Die Kiwi’s, wat agtereenvolgende eindstryde in 2009 en 2010 verloor het, het 158 vir vyf behaal met die speler van die toernooi, Amelia Kerr, op 43. In antwoord is die Proteas beperk tot 126 vir nege met kaptein Laura Wolvaardt wat 33 aangeteken het. Kerr en Rosemary Mair het elk drie paaltjies gevat. Dit is die tweede agtereenvolgende nederlaag in die eindstryd vir Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22 -rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-27-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-723-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….