Nuus 08:00
BULLETIN 20 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Tito Mboweni was ‘n aktivis in die stryd teen apartheid
# Die EFF staar ‘n massa-leierskapsuittog in die gesig nadat twee sleutelfigure bedank
# En, rugby: Die Leeus byt vas vir naelskraapse oorwinning oor Zebre en bly onoorwonne in die VRK
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige minister van Finansies Tito Mboweni het ‘n roemryke loopbaan gehad, maar hy was terselfdertyd nederig, minsaam en kon met homself spot. Ramaphosa het die huldeblyk gelewer op Mboweni se spesiale amptelike begrafnis in Tzaneen, Limpopo. Hy sê Mboweni was ‘n aktivis in die stryd teen apartheid en het ‘n invloedryke rol gespeel in die ontwikkeling van die ANC se ekonomiese beleid terwyl die party voorberei het om in 1994 die regering te word:
Ramaphosa het bygevoeg Mboweni was ‘n kampvegter vir ekonomiese transformasie in Suid-Afrika, net soos hy aangedring het op fiskale dissipline en bewys-gebaseerde beleidmaking. Ramaphosa sê Mboweni het die minister van Finansies geword toe die land die era van staatskaping moes beveg en terselfdertyd ‘n verwoestende wêreldwye pandemie moes trotseer:
# Die EFF ondervind ‘n massa-uittog van leiers, nadat Gugu Mtshali en Khumbulani Langa uit die party bedank het. Hulle vertrek volg op Floyd Shivambu se onlangse oorskakeling na voormalige president Jacob Zuma se nuwe party. Mtshali verwys naonderdrukkende toestande in die EFF, terwyl Langa ontevrede is oor interne faksies. Die bedankings volg op die EFF se swak twee-persent-vertoning in die onlangse verkiesing, sy slegste uitslag sedert sy totstandkoming. Die party verwag nog bedankings terwyl hy sukkel om sy strukture te herbou.
# Benjamin Netanyahu het ‘n kort videoverklaring uitgereik na die nuus dat sy huis Saterdag deur ‘n hommeltuig uit Libanon geteiken is. Volgens die Israelse weermag het drie hommeltuie die Israelse lugruim binnegedring. Die eerste minister en sy vrou was nie in die omgewing van hul vakansiehuis in Caesarea nie en geen beserings is aangemeld nie. Caesarea is ‘n vooruitstrewende vakansiedorp in die middel van die land. Netanyahu het in die video sy magte geprys vir die moord op die Hamasleier Yahya Sinwar dié week, en gesê niks sal hom van stryk bring nie.
# En, rugby: Die Leeus het ‘n naelskraapse oorwinning van 10-9 oor Zebre behaal in uitdagende reënweer in Parma, Italië, om hulle onoorwonne rekord dié seisoen in die Verenigde Rugby Kampioenskap te behou. Ten spyte van nat en winderige toestande, het die Leeus momentum gebou en belangrike punte aangeteken, waaronder ‘n drie deur Edwill van der Merwe en akkurate skopwerk deur Sanele Nohamba. Hulle vierde oorwinning van die seisoenbeteken hulle is die enigste onoorwonne Suid-Afrikaanse span dié seisoen. Die sege plaas die Leeus tweede op die punteleer met 18 punte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….