Nuus 11:00
BULLETIN 19 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom bereik 12,06-miljard-rand in dieselbesparings jaar-tot-jaar
# Die Vryheidsfront Plus is gereed om sy opposisierol in Tshwane te vervul
# En, motorsport: Max Verstappen kwalifiseer uiteindelik weer eerste by Amerikaanse Grand Prix-snelren
# Eskom sê hy het tussen 1 April en 17 Oktober vanjaar 12,06-miljard-rand se jaar-tot-jaar dieselbesparings bereik, wat minder is as die 18,24-miljard-rand wat verlede jaar oor dieselfde tydperk bestee is. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê die kragnutsmaatskappy se strategiese gebruik van piekstasies, wat pomp-opgaarskemas en oopsiklus-gasturbines insluit, bly die sleutel tot die bestuur van elektrisiteitsaanvraag in piektye, veral spitstye in die aand:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê hy is gereed om sy opposisierol te vervul in die metro en sal nie aansluit by die regerende ANC-EFF-ActionSA-koalisieregering nie. Grandi Theunissen van die party sê egter hulle sal een van hulle raadslede benoem om te dien as die voorsitter van die stad se Openbare Rekeningekomitee. Hy sê opposisiepartye vervul gewoonlik dié rol in al drie sfere van die regering:
# Die DA in Gauteng vra die provinsiale regering en die Departemente van Gesondheid en Onderwys om openbare bewustheidsveldtogte oor voedselvergiftiging in te stel om leerders, ouers en onderwysers in te lig oor die belangrikheid van die koop van kos wat geskik is vir verbruik. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê die party sal albei departemente aanspreeklik hou vir hulle rol in die beskerming van kinders se gesondheid:
# Donald Trump het ‘n regter boos genoem nadat sy meer as een-duisend-800 bladsye se getuienis vrygestel het in die spesiale regsraadgewer Jack Smith se verkiesingsamesweringsaak teen hom. Trump sê die Distrikshofregter Tanya Chutkan se verwerping van sy aansoek om die vrystelling van nuwe bewyse te vertraag tot na die verkiesing kom neer op inmenging. Sy meen om die dokumente geheim te hou kan ook beskou word as inmenging. Die aanklag gaan oor die 6 Januarie 2021-opstand by die Capitol en beskuldig Trump van ‘n onwettige sameswering om sy nederlaag in die verkiesing om te keer.
# En, motorsport: Max Verstappen het die voorste wegspringplek oortuigend ingepalm vir vandag se snelren by die Amerikaanse Grand Prix na ‘n vinnige kwalifiserende sessie Vrydag. Dit is die eerste keer in twaalf byeenkomste sedert Mei dat die driemalige wêreldkampioen dit weer kon regkry. George Russell van Mercedes spring tweede weg, met Charles Leclerc in die derde plek vir Ferrari. Lando Norris van McLaren, wat 52 punte agter Verstappen is in die kampioenskap, is vierde, voor Carlos Sainz van Ferrari.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….