Nuus 08:00
BULLETIN 19 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit beskuldig die Gauteng Onderwysdepartement van vyandigheid teenoor Afrikaanse skole
# Die Valke ondersoek ‘n tweede inbraak by die Phala Phala-plaas
# En, rugby: Die Stormers verander sy voorspelers vir die kragmeting met Munster
# Solidariteit beskuldig die Gautengse Onderwysdepartement van vyandigheid teenoor Afrikaanse skole. Die vakbond glo die BELA-wet ondermyn Afrikaanse onderrig. Hy kritiseer die departement dat hy te midde van voortdurende tekorte nie voldoen aan die behoefte vir nuwe skole nie. Connie Mulder van Solidariteit vrees die wet se taal- en toelatingsbeleid sal gebruik word om Afrikaanse skole te dwing om dubbelmedium-onderrig aan te bied, wat hulle toekoms sal bedreig:
# Die Valke bevestig daar is ‘n ondersoek na ʼn tweede inbraak by president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala in Limpopo. Volgens News24 het die voorval in Junie 2020 plaasgevind, vier maande nadat miljoene dollar in die eerste inbraak in Februarie gesteel is. Hoewel Ramaphosa ontken daar was enige diefstal met die tweede voorval, het die inbrekers volgens berigte meer as ʼn uur in die plaashuis deurgebring voor hulle gevlug het toe ʼn presidensiële beskermingsvoertuig die huis genader het. Ten spyte daarvan is daar eers twee jaar later met ʼn amptelike ondersoek begin.
# President Cyril Ramaphosa betreur die afsterwe op 72-jarige ouderdom van die voormalige minister van Arbeid, Membathisi Mdladlana. Mdladlana was ‘n lid van Suid-Afrika se eerste demokratiese parlement in 1994 en was minister van Arbeid onder presidente Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Mdladlana sal onthou word as ‘n sleutelfiguur in die land se geskiedenis:
# Netflix het begin om sy pryse in sekere lande te verhoog. Die maatskappy se optrede teen gedeelde wagwoorde het tot verbeterde groei gelei, maat dit het nou begin vervaag. Die maatskappy sê hy het reeds pryse in Japan en dele van Europa sowel as die Midde-Ooste en in Afrika begin verhoog. Netflix het sedert verlede jaar meer as 45-miljoen nuwe lede gewerf en het wêreldwyd 282-miljoen intekenare. Ontleders verwag advertensies sal uiteindelik tot groot wins vir Netflix lei. Netflix het egter gewaarsku hy voorsien geen toename in advertensie-verwante groei voor volgende jaar nie.
# En, rugby: Die Stormers het vier voorspeler-veranderings aangebring aan die beginspan vir vandag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Munster in Kaapstad. Die stut Sti Sithole en die haker Joseph Dweba is terug in die opdrafspan, met die slot Adré Smith vir die eerste keer die seisoen in die beginspan. Marcel Theunissen sal as oopkantflank begin. Die enigste verandering aan die agterlyn is Suleiman Hartzenberg wat terug is op regtervleuel, terwyl die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies na ‘n besering terug is op die plaasvervangersbank. Afskop is om 6- namiddag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….