Nuus 07:00
BULLETIN 19 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Al vier beskuldigdes in die Lusikisiki-slagting sal op 26 November weer in die hof verskyn
# President Ramaphosa lewer die huldeblyk by Tito Mboweni se begrafnis
# En, padwedlope: ‘n Rekordgetal van 21-duisend atlete gaan aan die Kaapstad Marathon deelneem
# Al vier beskuldigdes in die Lusikisiki-massamoorde verskyn weer op 26 November in die plaaslike Landdroshof. Aphuwe Ndende, Lwando Abi en Bonga Hintsa is hierdie week in hegtenis geneem en sal saam met Siphosoxolo Myekethe, wat kort ná die slagting aangekeer is, verskyn. Agtien mense is dood toe ‘n groep mans op 28 September in Ngobozana op familielede in twee huise losgebrand het. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap se woordvoerder Luyolo Tyali sal die beskuldigdes in aanhouding bly:
# Die Kongres van Suid-Afrikaanse Studente sê hy ondersteun die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se oproep om tegnieke vir die aflewering van matriekeksamenvraestelle te digitaliseer om ‘n kullery te verhoed. Adjunkpresident Okuhle Dlamini, het ook die beveiliging van die eksamen se integriteit beklemtoon. Sy het verder gesê benadeelde skole moet in hierdie oorgang geakkommodeer word:
# President Cyril Ramaphosa gaan vandag die lofrede lewer by die begrafnis van die voormalige minister van Finansies, Tito Mboweni. Die begrafnis vind plaas in die Nkowankowa-stadion in Tzaneen, Limpopo. ‘n Spesiale kategorie 2 amptelike begrafnis is afgekondig ter ere van die voormalige minister van Finansies wat verlede week op 65 oorlede is. Die begrafnis sluit seremoniële bydraes in deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Mboweni was Suid-Afrika se eerste minister van Arbeid en was ook president van die Reserwebank. Die begrafnisverrigtinge begin vanoggend om tien-uur.
# Aanklaers en polisie het meer inligting bekendgemaak oor die omstandighede rondom die dood van die voormalige ster van One Direction, Liam Payne. Hy is Woensdag dood nadat hy van ‘n balkon van ʼn hotelkamer in Buenos Aires, Argentinië, geval het. ʼn Nadoodse ondersoek het bepaal hy is weens verskeie traumabeserings en bloeding dood. ʼn Plaaslike ambulansdiens het Payne gevind waar hy op ʼn patio by die hotel lê. Volgens hulle was die beserings noodlottig en daar was geen moontlikheid om hom by te bring nie.
# En, padwedlope: ‘n Rekordgetal van 21-duisend atlete gaan na verwagting môre deelneem aan die Kaapstadse Marathon. Verskeie vooraf geleenthede vind vandag plaas, waaronder veld- en vredeswedlope. Môre se wedloop strek oor 42,2-kilometer verby landmerke van Nuweland tot Groenpunt. Daar is afdelings vir rolstoel- elite- en beginner-atlete en die wenners kan tot 400-duisend-rand verdien. Die marathon is deel van die Abbott Wêreldmarathonreeks en mik daarna om een van die wêreld se elite-marathons te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….