Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Polisie-sersant van Limpopo, haar dogter en haar suster verskyn in die hof oor polismoorde
# ‘n Overbergse skoolmeisie se vermeende moordenaar versoek sielkundige waarneming
# En, rugby: Die Stormers en die Haaie hoop om weer op die wenpad te kom in die Verenigde Rugbykampioenskap
# ‘n Polisie-sersant van Limpopo, Rachel Kutumela, haar dogter en haar suster het vandag in die Streekhof in Polokwane verskyn oor beweerde versekering-verwante moorde. Kutumela staan tereg op ses aanklagte van moord en 12 van bedrog terwyl haar familielede van geldwassery aangekla word. Die owerhede beweer sy het versekeringspolisse op ‘n bedrieglike wyse op slagoffers uitgeneem en tien-miljoen-rand geëis. Waarnemende senior landdros, Godfrey Netshiozwi, het hulle borgtogaansoeke tot die einde van die maand uitgestel:
# Die Landdroshof in Caledon in die Wes-Kaap gaan die 25ste van die maand die aansoek oorweeg van die jong beskuldigde in die moord op ‘n 16-jarige skoolmeisie om vir sielkundige waarneming gestuur te word. Deveney Nel is in Augustus by die Hoërskool Overberg vermoor, en haar 17-jarige skoolmaat is aangekeer kort nadat hy haar gedenkdiens bygewoon het. Dit het later bekend geword hy is in 2020 beskuldig van die seksuele aanranding op ‘n 11-jarige meisie, maar is nie vervolg nie omdat hy ‘n gebrek aan misdadige vermoë gehad het.
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, vra die land se inflasieteiken van drie tot ses-persent, moet verlaag word en voer aan dit sal langtermynvoordele inhou met verlaagde rentekoerse. Kganyago het by die Universiteit Stellenbosch gesê ʼn aanpassing na ʼn laer teiken sal min kos. Hy beklemtoon Suid-Afrika se relatief hoё inflasie is nie onvermydelik nie, maar ʼn beleidskeuse. Die bank se volgende besluit oor rentekoerse vind op 21 November plaas.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, neem met groot besorgdheid kennis van die toenemende aantal mynaansoeke wat landbougrond teiken. Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, sê hierdie ontwikkeling hou ernstige gevolge in vir die volhoubaarheid van landbou en die toekoms van voedselproduksie in Suid-Afrika. Hy sê mynbedrywighede, soos die ontginning van gas, het ‘n regstreekse uitwerking op die beskikbaarheid van landbougrond en lei tot die besoedeling van waterbronne:
# Rugby: Die Leeus en die Bulle wil hulle onoorwonne veldtog in die Verenigde Rugbykampioenskap hierdie naweek voortsit terwyl die Haaie en die Stormers weer wil wen na nederlae. Die twee kusspanne is weer terug voor hulle getroue tuisskares en word versterk met die terugkeer van ‘n hele paar Springbokke. Die Scarlets is vanaand in Wallis die gasheer vir die Bulle. Môre speel die Leeus in Italië teen Zebre Parma, die Haaie speel in Durban teen die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors, en die Stormers speel in Kaapstad teen Munster.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-852-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-712-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….