Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Zero Carbon Charge sê die ontwikkeling van ‘n herlaai-netwerk vir elektriese voertuie wat nie aan Eskom se netwerk gekoppel is nie, is die enigste werkbare oplossing vir Suid-Afrika om sy koolstofverminderingsteikens te haal. President Cyril Ramaphosa het aangekondig die regering oorweeg die instelling van nuwe aansporingsmaatreëls om verbruikers aan te moedig om elektriese voertuie te koop. Joubert Roux van Zero Carbon Charge sê hulle verwelkom Ramaphosa se aankondiging, maar vir elektriese voertuie om tot die vermindering van koolstofvrystellings by te dra, moet dit deur groen energiebronne aangedryf word.
# Goed-bestuurde aangeplante woude dra regstreeks by tot die bewaring en vernuwing van bioverskeidenheid. Dit is die mening van die voorsitter van Bosbou Suid-Afrika se Omgewingsbestuurskomitee, Hlengiwe Ndlovu. Sewe-persent van die wêreld se woude is aangeplant, maar dit verskaf ongeveer die helfte van die wêreld se hout. Suid-Afrika het meer as 80-persent aangeplante woude wat gesertifiseer is. Ndlovu sê lande het onderneem om teen 2030 minstens 30-persent van die wêreld se grond en water te bewaar en 30-persent van die beskadigde ekostelsels te herstel.
# En ten slotte: Die Bondi-strand in Sydney is gesluit nadat duisende geheimsinnige teerballe die afgelope paar dae aan die Australiese kus uitgespoel het. Die gewilde toeristebestemming is een van sewe strande wat gedeeltelik of ten volle gesluit is. Teerballe word gevorm wanneer olie in aanraking kom met brokstukke en water, en is dikwels die gevolg van oliestortings of deursypeling. Owerhede erken egter hulle is in die duister oor die oorsprong. Toetse het bevestig die materiaal is koolwaterstof-gebaseerde besoedeling. Plaaslike rade het met skoonmaakpogings begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….