Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie vind die wapens wat in die Lusikisiki-slagting gebruik is
# Die DA in Johannesburg vra geld moet eerder vir dienslewering gebruik word as om Sandton-rylaan se naam te verander
# En, krieket: Die Dolphins verwelkom David Miller terug vir die T20-uitdaagreeks
# Die polisie sê hulle het moontlik die hoëkaliber-vuurwapens gevind wat gebruik is in verlede maand se massamoord in Lusikisiki in die Oos-Kaap waarin 18 mense dood is. Dit sluit drie AK47-gewere en ‘n Mannlicher-jaggeweer in. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat die vuurwapens in Flagstaff by hulle gekry is:
# Die DA in Johannesburg vra burgemeester Dada Merero en die koalisieregering om sy standpunt oor die naamsverandering van Sandton-rylaan na Leila Khaled-rylaan te hersien. Khaled het roem verwerf as die eerste vrou wat ‘n vliegtuig gekaap het terwyl sy ‘n lid van die Palestynse Bevrydingsfront was. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die geld moet eerder gebruik word om dienslewering te verbeter, soos om die waterkrisis op te los:
# Die stemproses vir Amerikaners wat in die buiteland woon, word al lank deur albei partye as heilig beskou, hoofsaaklik as gevolg van die verbintenis met Amerikaanse militêre personeel wat in die buiteland diens doen. Die proses is nou egter die teiken van verskeie Republikeins-gesteunde hofsake. Buitelandse stembriewe word as gunstig vir Demokrate beskou en kan deurslaggewend wees om vise-president Kamala Harris ‘n hupstoot te gee. Oud-president Donald Trump sê egter nou – sonder enige bewyse – die oorsese stemming is bedrieglik. Daar is ongeveer 6,5-miljoen stemgeregtigde Amerikaners oorsee.
# Krieket: Die Dolphins verwelkom môre die plaaslike held, David Miller, terug vir hulle laaste tuiswedstryd in die T20-uitdaagreeks teen die Boland op Kingsmead in Durban. Miller sal vir die Dolphins speel na sy onlangse skof vir Barbados Royals in die Karibiese Premierliga. Volgens die 35-jarige is hy gretig om weer vir sy tuisspan te speel. Die Dolphins het hulle laaste twee kragmetings ingepalm, insluitend ‘n goeie oorwinning oor die Knights Woensdagaand in Bloemfontein, en het nog ʼn buitekans om die halfeindronde te haal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-876-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-702-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: Kinders so jonk soos tien sal binnekort weer in Australië se Noordelike Gebied tronk toe gestuur kan word, nadat die ouderdom van strafregtelike verantwoordelikheid verlaag is. Australiese state en gebiede is onder druk om die ouderdom van 10 tot 14 te verhoog, soos in ander ontwikkelde lande. Die Noordelike Gebied stuur reeds elf keer meer kinders tronk toe as enige ander regsgebied in die land, en byna almal is inheemse Australiese inwoners. Die nuwe regering in die gebied sê om jonger kinders tronk toe te stuur, sal keer dat hulle in die toekoms by misdaad betrokke raak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….