Nuus 11:00
BULLETIN 18 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie vind die vuurwapens wat in die Lusikisiki-slagting gebruik is
# Die SA Privaatpraktisynsforum doen regstappe teen die NGV-wet
# En,Netanyahu sê die Hamas-leier se dood is nie einde van die oorlog nie
# Die polisie sê hulle het moontlik die hoëkaliber-vuurwapens gevind wat gebruik is in verlede maand se massamoord in Lusikisiki in die Oos-Kaap waarin 18 mense dood is. Dit sluit drie AK47-gewere en ‘n Mannlicher-jaggeweer in. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat die vuurwapens in Flagstaff by hulle gekry is:
# Die Suid-Afrikaanse Privaat Praktisynsforum het die Hooggeregshof in Pretoria genader vir die hersiening en tersydestelling van president Cyril Ramaphosa se besluit om die Wet op die Nasionale Gesondheidversekering te bekragtig. Die president het die omstrede wetgewing in Mei onderteken en sê hy glo die NGV sal gesondheidsorg in die land meer bekostigbaar maak. Die forum, Suid-Afrika se grootste vereniging vir mediese spesialiste, sê Ramaphosa het misluk in die uitvoering van sy grondwetlike pligte toe hy die wet onderteken het.
# Die Instituut vir Rasseverhoudings sê peilings toon dat swart ekonomiese bemagtiging 85-persent van Suid-Afrikaners in die steek gelaat het deur die Staatsdiens skade te berokken en die kanse op bedrog te verhoog. Die minister van Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, beoog om ‘n beleidsopdrag aan die kommunikasiereguleerder, Okosa, uit te reik wat kan lei tot die hersiening van die swartbemagtigingsreëls wat die sektor vir inligting- en kommunikasietegnologie reguleer. Die instituut sê dit is tyd om SEB van sy troon te verwyder en ware nie-rassige bemagtigings-alternatiewe te ondersoek.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die dood van die Hamas-leier, Yahya Sinwar, beteken nie die einde van die oorlog in Gaza nie. Israelse magte het hom in Rafah doodgemaak. Sinwar was glo die baasbrein agter verlede jaar se aanvalle op 7 Oktober in Israel waarin een-duisend-200 mense dood en 250 gyselaar geneem is. Dit het gelei tot ‘n Israelse aanslag op Gaza waarin sowat 42-duisend mense gesterf het. Netanyahu sê die fokus is nou op die gyselaars se bevryding:
# Krieket: Die Dolphins verwelkom môre die plaaslike held, David Miller, terug vir hulle laaste tuiswedstryd in die T20-uitdaagreeks teen die Boland op Kingsmead in Durban. Miller sal vir die Dolphins speel na sy onlangse skof vir Barbados Royals in die Karibiese Premierliga. Volgens die 35-jarige is hy gretig om weer vir sy tuisspan te speel. Die Dolphins het hulle laaste twee kragmetings ingepalm, insluitend ʼn goeie oorwinning oor die Knights Woensdagaand in Bloemfontein, en het nog ʼn buitekans om die halfeindronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-3-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….