Nuus 08:00
BULLETIN 18 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom versterk sy uitvoerende span met die oog op langtermyn volhoubaarheid
# Al die Gautengse leerders wat in die hospitaal opgeneem is vir voedselvergiftiging is ontslaan
# En Kamala Harris sê die dood van die Hamas-leier is ‘n geleentheid om die oorlog in Gaza te beëindig
# Eskom sê hy bring sy uitvoerende vermoë in lyn deur te fokus op opgeleide persone in die beste struktuur waar hulle die vinnigste waarde kan toevoeg. Die uitvoerende hoof, Dan Marokane, het die eerste vier van sewe nuwe uitvoerende persone aangestel. Hulle is Portia Mngomezulu by Korporatiewe Dienste, Nontokozo Hadebe by Strategie en Volhoubaarheid, Roman Crookes by groepskapitaal en Len de Villiers as hoof van Inligting en Tegnologie. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die aanstellings sal huidige sake-uitdagings aanspreek en die kragverskaffer in die toekoms beskerm:
# Vodacom se appèl teen die Appèlhof se beslissing oor die Please Call Me-uitvinder, Nkosana Makate, se uitbetaling word volgende maand in die Konstitusionele Hof aangehoor. Die Appèlhof het die aanbod van 47-miljoen-rand wat uitvoerende hoof, Shameel Joosub, aan Makate gemaak en wat hy verwerp het, tersyde gestel. Die hof het in Februarie beveel Makate moet vyf- tot 7,5-persent betaal word van die Please Call Me-diens se totale stemboodskap-inkomste sedert Maart 2001. Vodacom sê Makate is nie geregtig op ‘n lewenslange vergoeding omdat hy die brein agter die gratis diens was nie.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê alle leerders wat die week in hospitale in Hammanskraal en Bronkhorstspruit opgeneem is met vermeende voedselvergiftiging, is ontslaan. Sewe-en-veertig leerders van Rapelego Primary School in Hammanskraal is Maandag in die hospitaal opgeneem nadat hulle sjokolade geëet waarvan die vervaldatum in Junie was. Donderdag het 25 leerders van Mshuluzane Mayisela Primary School in Bronkhorstspruit siek geword nadat hulle volgens berigte snoepgoed geëet het wat hulle by ʼn smous buite die skool gekoop het. Die departement sê hy werk saam met gesondheidsowerhede om seker te maak sulke voorvalle vind nie weer plaas nie.
# Amerika se visepresident, Kamala Harris het die Hamas-leier, Yahya Sinwar, se dood beskryf as ʼn geleentheid om uiteindelik die oorlog in Gaza te beëindig. Israelse soldate het hom in die suide van Gaza doodgemaak. Hy was vermoedelik die baasbrein agter die aanvalle op sewe Oktober verlede jaar toe Hamas sowat een-duisend-200 mense in Israel vermoor en 251 gyselaar geneem het. Harris sê geregtigheid het geskied met Sinwar se dood:
# Tennis: Die Serwiër, Novak Djokovic, speel môre die laaste keer teen die Spanjaard, Rafael Nadal, in die uitspeelwedstryd vir derde plek by die Six Kings Slam-vertoontoernooi in Saoedi-Arabië. Djokovic moes met 6-2, 6-7, 6-4 die knie buig teen die Italianer Jannik Sinner, terwyl Nadal, wat ná volgende maand se Davis-beker in Malaga uittree, met 6-3, 6-3 teen sy landgenoot, Carlos Alcaraz, verloor het. Djokovic en Nadal het 60 keer ontmoet op die ATP-toer, insluitend Grand Slams, met die Serwiër wat 31 gewen het teenoor Nadal se 29, en spog met 24 Grand Slams teenoor Nadal se 22.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-873-dollar-XX-sent. Die prys van goud is twee-duisend-708-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….