Nuus 06:00
BULLETIN 18 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is geen bevindings teen hom in die Phala Phala-aangeleentheid nie
# Cosatu waarsku oor die toename in gevalle van voedselvergiftiging
# En krieket: Die Proteas oorrompel Australië en haal die eindstryd van die Vroue T20 Wêreldbeker
# President Cyril Ramaphosa sê ondersoeke na die geld wat by Phala Phala in Limpopo gevind is, is afgehandel en onafhanklike liggame het bevind hy het niks verkeerd gedoen nie. Hy het gedurende vraetyd in die Nasionale Vergadering daarop gewys dat die Nasionale Vergadering besluit het om nie die onafhanklike paneel se verslag verder te voer nie. Ramaphosa het tydens die ondersoeke sy volle samewerking gegee en is vol vertroue oor die komende hersiening in die Konstitusionele Hof op 26 November:
Intussen het die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit gekritiseer om niemand in die Phala Phala-aangeleentheid te vervolg nie. Die voormalige spioenbaas Arthur Fraser het ‘n saak teen Ramaphosa en die voormalige hoof van sy presidensiële beskermingseenheid, Wally Rhoode, geopen. Dit was oor die beweerde toesmeerdery van die diefstal van buitelandse valuta op die president se Limpopo-wildplaas in 2020. Hlophe sê die NVG se besluit bewys dat geregtigheid in Suid-Afrika net vir die elite beskore is:
# COSATU waarsku oor die toename in voedselvergiftiging onder skoolkinders. Dit volg ná die jongste voorvalle, waarin 25 leerders van ‘n laerskool in Bronkhorstspruit en meer as 20 leerders van die Hoërskool Marhagi, in Verena in Mpumalanga weens voedselvergiftiging in die hospitaal opgeneem is, met ses kinders wat in Naledi, Soweto dood is. Die federasie dring aan op strenger voedselinspeksies, swaar strawwe vir vervalste goedere en vra dat ondernemings wat verantwoordelik is, aanspreeklikheid gehou word.
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid het aangekondig al die aanlyn dienste vir die Werkloosheidsversekeringsfonds is ten volle herstel ná ‘n ontwrigting van ses weke. Minister Nomakhosazana Meth het bevestig platforms soos uFiling, aanvullende diensdata vir die Fonds, asook die selfoontoepassing is reggemaak vir eise en betalings. Die diens was tydelik buite werking ná onvoorsiene probleme. Meth het kliënte bedank vir hul geduld en die versekering gegee maatreëls word ingestel om toekomstige diensonderbrekings te voorkom.
# Die Israelse weermag sê hulle ondersoek die moontlikheid dat hulle die leier van Hamas, Yahya Sinwar, doodgemaak het. Sinwar was sedert 2017 die leier van Hamas in Gaza en word beskou as die baasbrein agter die aanvalle op 7 Oktober. Die 62-jarige het die algehele leierskap van Hamas oorgeneem nadat sy politieke leier, Ismael Haniyeh, in Julie in Iran vermoor is. Volgens Sky News Middle East het Sinwar vermoedelik ondergronds in die tonnelnetwerk onder Gaza weggekruip. Hy was die hoofteiken sedert Israel ‘n jaar gelede met aanvalle en grondoperasies in Gaza begin het.
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n kragdadige vertoning gelewer om die verdedigende kampioen, Australië, met agt paaltjies in Dubai te klop, en die Vroue T20 Wêreldbeker-eindstryd te haal. Australië het 134 vir vier aangeteken. In antwoord daarop het Anneke Bosch ‘n onoorwonne 74 gemoker, terwyl die kaptein Laura Wolvaardt 42 bygevoeg het in ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 96. Die Proteas het die doelwit bereik met 16 balle oor. Bosch sê om Australië vir die eerste keer in ‘n T20 Wêreldbeker te verslaan, is ongelooflik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-329-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-693-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….