Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa herbevestig sy verbintenis tot die handhawing van etiese gedrag in die uitvoerende gesag te midde van VBS-bewerings
# Israel glo hy het Hamas se leier doodgemaak
# En, rugby: Minister McKenzie verduidelik die Springbok-aandele-transaksie
# President Cyril Ramaphosa het sy verbintenis tot die handhawing van etiese gedrag in die uitvoerende gesag herbevestig, na aanleiding van bewerings oor ‘n lening by VBS Mutual Bank waarby die minister van Justisie, Thembi Simelane, betrokke is. Hy beklemtoon alle lede moet jaarliks hul finansiële belange bekend maak om deursigtigheid te verseker en ‘n botsing van belange te voorkom. Ramaphosa het met vraetyd in die Nasionale Vergadering gesê hy oorweeg die bevindings noukeurig:
Die MK-party het intussen die regering van nasionale eenheid van onnodige onenigheid beskuldig om transformasiewinste om te keer. Parlementêre leier John Hlope het op ‘n nuuskonferensie die ANC-DA-koalisie gekritiseer en beweer hulle sloer met sleutelwette, insluitend die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid. Hlope het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy oorgegee het aan die DA se eise, wat bestuur en deursigtigheid benadeel. Hy het ook die versuim gekritiseer om Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal te vervolg, en noem dit ‘n bewys van kieskeurige geregtigheid wat die invloedrykes teen aanspreeklikheid beskerm.
# Die ministerie van Polisie het bevestig die polisie is aktief op soek na bykomende verdagtes wat verbind word met die massaskietery in Lusikisiki in die Oos-Kaap waarin 18 mense dood is. Vier verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem. Een verdagte is egter steeds op vrye voet, en die wapens wat gebruik is in die voorval is nog nie gevind nie. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola beklemtoon die behoefte om aandag te gee aan toenemende geweld en onwettige vuurwapens:
# Die Israelse Weermag ondersoek die moontlikheid dat hulle die leier van Hamas, Yahya Sinwar, doodgemaak het. Sinwar was sedert 2017 die leier van Hamas in Gaza en word beskou as die baasbrein agter die aanvalle op 7 Oktober verlede jaar. Die 62-jarige het die algehele leierskap van Hamas oorgeneem nadat sy politieke leier, Ismael Haniyeh, in Julie in Iran doodgemaak is. Volgens Sky News Middle East het Sinwar vermoedelik ondergronds in die tonnelnetwerk onder Gaza weggekruip. Hy was die hoofteiken sedert Israel ʼn jaar gelede met aanvalle en grondoperasies in Gaza begin het.
# Rugby: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het sy betrokkenheid by die omstrede Springbok-aandeletransaksie van 1,3-miljard-rand opgeklaar. Hy het aan die media verduidelik dat hy aktief betrokke was by gesprekke om te verseker Suid-Afrika se belange word ten volle verteenwoordig in die transaksie. McKenzie beklemtoon hy het drie maande gelede met SA Rugby vergader met vrae oor die transaksie, wat aanvanklik teenstand ondervind het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-947-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-689-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….