Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en slegs deur sonkrag aangedryf word, het die rit van Kenia na Stellenbosch voltooi. Navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese en ʼn elektriese beweeglikheidsmaatskappy in Kenia, Roam, het die motorfiets ontwikkel. Die reis van sowat ses-duisend-kilometer het deur Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië en Botswana tot in Suid-Afrika gelei. Roam se woordvoerder, Masa Kituyi, sê dit bewys skoon energie dryf nie net voertuie aan nie, maar beteken ook ʼn meer rooskleurige en volhoubare toekoms vir die vasteland.
# Die Doen Meer-stigting het met ‘n veldtog na vore gekom gemik op die verbetering van voedingsgeletterdheid onder een-duisend vroeë-kinderjare ontwikkelingspraktisyns en kokke. Altesaam 23-persent van kinders in die land beleef kindervoedselarmoede. Jabu Mthembu-Dlamini van die stigting sê hulle werk nou saam met praktisyns om hulleself te posisioneer as spilpunte van gesondheid en voeding in gemeenskappe met aansienlike voedselonsekerheid.
# Die studenteraad van die Universiteit van die Witwatersrand het WorkReady Gen Z bekendgestel, wat ‘n aangrypende en praktiese aanlyn kursus is. Dit word aangebied in samewerking met die Eenheid vir Berading en Loopbaanontwikkeling. Die kursus is verdeel in drie sleutelafdelings vir volledige loopbaangereedheid, werksoekstrategieë, jou eerste werkreeks en vaardigheidsoefeninge. Wits se loopbaandienste-spanleier, Lindelwe Cili, sê WorkReady Gen Z is ontwikkel om studente te bemagtig, nie net vir hulle eerste werk nie, maar vir langtermyn sukses in hulle loopbane.
# Die Ovuwa-kulturele ensemble van die Universiteit van Pretoria is benoem vir ‘n Suid-Afrikaanse Tradisionele Musiekprestasietoekenning. Ovuwa voer tradisionele Afrika-liedjies en danse uit, wat die verskeidenheid van Suid-Afrika se kulture uitbeeld, en brei hulle vertonings uit om die musikale tradisies uit te beeld van Zimbabwe, Uganda, Rwanda en ander Afrikalande. Die universiteit sê die benoeming erken die ensemble se toewyding tot die behoud en bevordering van Afrika se inheemse musikale kunsvorms.
# En ten slotte: Die Italiaanse modehuis Prada en die nuwe Amerikaanse ruimtevaartmaatskappy Axiom Space het die ruimtepakke onthul vir NASA se komende Artemis 3-sending, wat sy eerste bemande reis na die maan sal wees sedert Apollo 17 in 1972. Die ontwerp van die nuwe ruimtepak verbeter beweeglikheid, kan ‘n ruimtewandeling van agt uur hanteer en sal twee ure van die maan se suidpool se laagste temperature kan weerstaan. Die president van Axiom Space, Matt Ondler, sê die ruimtepakke is deeglik getoets en het nabootsings ondergaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….