Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, glo hulle het die talent om vandag die verdedigende kampioen, Australië, in Dubai te klop in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die twee spanne het verlede jaar op Nuweland in Kaapstad in die eindstryd kragte gemeet toe Australië sy sesde titel gebuit het met ‘n oorwinning met 19 lopies. Die ander halfeindstryd vind môre plaas tussen die Wes-Indiese Eilande en Nieu-Seeland. Wolvaardt sê hulle sal hul beste spel moet opdis:
Nog krieketnuus: Die voormalige Indiese kaptein, Virat Kohli, beskryf AB de Villiers as die talentvolste speler saam met wie hy ooit gespeel het. Die voormalige Suid-Afrikaanse kolwer is pas in die sport se heldesaal ingelyf. Hulle het saam vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga gespeel. Die Internasionale Krieketraad het Kohli versoek om ʼn brief oor De Villiers te skryf. Hy sê die Suid-Afrikaner, met die bynaam “Mnr 360”, verdien die eer onvoorwaardelik danksy sy invloed op die spel, wat volgens hom uniek is.
# Vervolgens, gholf: Die Suid-Afrikaner, Robin Williams, gaan die eerste keer in sy loopbaan ‘n titel verdedig in die Fortress-uitnodigingstoernooi wat vandag op die Glendower-gholfklub in Gauteng begin. Hy het verlede week gelykop vierde geëindig in die toonaangewende Alfred Dunhill Links-kampioenskap in Skotland waar hy meegeding het met groot wenners in een van die sterkste groep spelers in daardie toernooi se geskiedenis. Williams sê hy is bewus dat sy reis tot op hierdie punt begin het met verlede jaar se oorwinning in die Fortress-uitnodigingstoernooi:
# ‘n Brokkie tennis: Die Spanjaarde Rafael Nadal en Carlos Alcaraz sal vandag vir oulaas teen mekaar speel in die halfeindronde van die Six Kings Slam-vertoonbyeenkoms in Riaad, Saoedi-Arabië. Nadal, wat 22 Grand Slam-titels op sy kerfstok het, het verlede week aangekondig hy sal volgende maand na die Davisbeker-eindtoernooi in Malaga uittree. Alcaraz het Holger Rune van Denemarke 6-4, 6-2 verslaan om ‘n kragmeting met die 38-jarige Nadal te verseker. Alcaraz sê Nadal is ‘n baie belangrike mens in sy lewe:
# Ons sluit af met sokker: Juventus se middelveldspeler, Paul Pogba, sê hy aanvaar volle verantwoordelikheid vir die opkikkertoets wat hy gedop het, maar beklemtoon hy is nie oneerlik nie. Die 31-jarige is in Februarie vier jaar lank geskors nadat hy positief getoets het vir sintetiese testosteroon. Die verbod is vroeër die maand verminder na 18 maande nadat die Arbitrasiehof vir Sport aanvaar het sy inname was nie opsetlik nie. Pogba het aan Sky Sport gesê hy moes drie maal seker gemaak het voordat hy die aanvulling geneem het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….