Nuus 11:00
BULLETIN 17 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan vandag vrae in die Parlement beantwoord
# Fikile Mbalula sê Pule Mabe het die regte ding gedoen deur opsy te staan
# En Amerika loods lugaanvalle in Jemen
# President Cyril Ramaphosa sal vandag vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Dit sluit in die werking van die regering van nasionale eenheid, die stryd teen georganiseerde misdaad, waaronder afpersing, en die uitkoms van die onlangse Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies. Daar sal ook druk op die president wees oor die minister van Justisie, Thembi Simelane, wat te doen het met aansprake van wanoptrede rakende die nou gelikwideerde VBS-bank. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president sal binnekort ‘n besluit oor die minister neem:
# Die ANC verwelkom die besluit van sy voormalige nasionale woordvoerder, Pule Mabe, om opsy te staan as ‘n lid van die nasionale uitvoerende komitee. Hy word aangekla van bedrog en geldwassery in verband met ‘n tender van 27-milljoen-rand wat in Maart 2017 toegeken is aan sy maatskappy, Enviro-Mobi. Mabe en sy ses medebeskuldigdes het gister in die hof verskyn en is borgtog van 30-duisend-rand elk toegestaan. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê Mabe het die regte ding gedoen kragtens die party se opsystaanreël.
# Die VF-Plus sê die gedurige verandering in die Mogale City-munisipaliteit in Gauteng se politieke leierskap, ondermyn kontinuïteit op alle vlakke. Dit volg na die bedanking van burgemeester Danny Thupane wat sedert April verlede jaar aan die stuur van sake was by dié Wes-Randse munisipaliteit. Hy het bedank voor daar gister oor ‘n mosie van wantroue teen hom gestem is. Danie Toerien van die VF Plus sê Thupane was net ’n marionet van die ANC en die EFF:
# Die Amerikaanse Weermag het lugaanvalle in Jemen uitgevoer teen die Irans-gesteunde Houthis, met vyf ondergrondse wapenopslagplekke as teiken. Die geriewe het verskeie wapen-onderdele bevat wat gebruik is om vaartuie in die Midde-Ooste te teiken. Die Amerikaanse minister van Verdediging, Lloyd Austin, sê die aanvalle is ‘n unieke bewys van die VSA se vermoë om geriewe te teiken wat sy teenstanders buite bereik probeer hou. Hy voeg by hulle sal dit steeds duidelik maak aan die Houthis dat daar gevolge sal wees vir hulle onwettige en roekelose aanvalle:
# Sokker: Juventus se middelveldspeler Paul Pogba, sê hy aanvaar volle verantwoordelikheid vir die opkikkertoets wat hy gedop het, maar beklemtoon hy is nie oneerlik nie. Die 31-jarige is in Februarie vier jaar lank geskors nadat hy positief getoets het vir sintetiese testosteroon. Die verbod is vroeër die maand verminder na 18 maande nadat die Arbitrasiehof vir Sport aanvaar het sy inname was nie opsetlik nie. Pogba het aan Sky Sport gesê hy moes drie maal seker gemaak het voordat hy die aanvulling geneem het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-175-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-682-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….