Nuus 09:00
BULLETIN 17 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Vervoer sê die regstryd tussen die Padongelukkefonds en Ouditeur-Generaal is roekeloos
# Tennis: Carlos Alcaraz speel vir oulaas teen sy held Rafael Nadal
# En president Ramaphosa gun pastoor McCauley ‘n Spesiale Provinsiale begrafnis
# Die Departement van Vervoer het kommer uitgespreek oor die voortslepende stryd tussen die Padongelukkefonds en die kantoor van die ouditeur-generaal oor die metodologie van rekenpligtigheid. Die drie jaar lange regstryd het tot dusver die fonds meer as tien-miljoen-rand gekos. Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, het aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die fonds kan nie kies wat hy sal aanvaar van die ouditeur-generaal nie, wat ook van toepassing is op hofuitsprake:
In nog ‘n verwikkeling het die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge kommer uitgespreek oor die ongunstige oudituitkoms van die Padongelukkefonds vir die 2023/2024-boekjaar. Die finansieel sukkelende fonds het ‘n aansienlik verminderde tekort van 1,8-miljard-rand vir die 2023/2024-boekjaar aangekondig, vergeleke met die 8,4-miljard-rand tekort die vorige jaar. Die komitee is ook bekommerd oor die finansiële volhoubaarheid van die fonds onder sy huidige befondsingsmodel, wat hoofsaaklik staatmaak op die brandstofheffing as sy hoofbron van inkomstestroom.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid en die Gautengse wetgewer se integriteitskommissie het ‘n memorandum van verstandhouding onderteken om staatsbestuur, etiek en integriteit te verbeter deur samewerkende oorsig. Die samewerking sal insluit reaksie op klagtes, die deel van verslae en uitruil van bestuursinligting. Die hoof van die SOE, Andy Mothibi, sê dit is nog ‘n stap tot die instelling en behoud van hoë standaarde van integriteit in die staatsdiens. Hy voeg by deur hulle kragte saam te snoer, kan hulle veg teen korrupsie, wanadministrasie en wanpraktyke.
# Tennis: Die Spanjaarde Rafael Nadal en Carlos Alcaraz sal vandag vir oulaas teen mekaar speel in die halfeindstryd van die Six Kings Slam-vertoonbyeenkoms in Riaad, Saoedi-Arabië. Nadal, wat 22 Grand Slam-titels op sy kerfstok het, het verlede week aangekondig hy sal volgende maand na die Davisbeker-eindstryd in Malaga uittree. Alcaraz het met 6-4, 6-2 gewen teen Holger Rune van Denemarke, en so ‘n kragmeting teen die 38-jarige Nadal verseker. Alcaraz sê Nadal is ‘n baie belangrike mens in sy lewe:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-319-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-44-sent per vat.
# En, president Cyril Ramaphosa het die begrafnis van pastoor Ray McCauley verklaar tot ‘n spesiale provinsiale amptelike begrafnis kategorie 2. Dit volg op die premier van Gauteng Panyaza Lesufi se versoek dat die president die lewe van die stigter van die Rhema Bybelkerk moet vereer. Hy is verlede week op 75 oorlede. Die woordvoerder van die premier, Sizwe Pamla, sê Lesufi beskryf McCauley as ‘n pionier-godsdiensleier:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….