Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FlySafair werk saam met ‘n derdeparty-verskaffer om stelsel-uitdagings op te los
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement worstel met ‘n werknemer-begrotingstekort van meer as 500-miljoen-rand
# En, krieket: Die Gabba gaan die eerste keer in 40 jaar nie die eerste toets om die As aanbied nie
# FlySafair ervaar uitdagings met stelsels by verskeie lughawens wat aanmeld- en instapprosesse beïnvloed. Die lugredery werk saam met ‘n derdeparty-verskaffer om die probleem op te los. Intussen hanteer personeel aanmelding en instap per hand om vertragings te verminder. FlySafair vra verskoning vir die ongerief en bedank passasiers vir hulle geduld terwyl hulle werk om alles te normaliseer.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy fokus daarop om kritieke vakatures te vul, ondanks begrotingsuitdagings. Die departement worstel met ‘n tekort van 500-miljoen-rand in sy werknemer-begroting. Hierdie tekort, veroorsaak deur verlede jaar se onderbefondsde salarisooreenkoms, plaas aansienlike druk op die departement se hulpbronne. Die woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die departement gaan voort om met belanghebbendes te skakel om hierdie begrotingsuitdagings uit die weg te ruim:
# Franse maatskappye vergroot hulle beleggings in Suid-Afrika aansienlik. Die Franse ambassadeur, David Martinon, het op die Franse Sakeforum in Johannesburg verwys na die finansiële reguleringsraamwerk van Suid-Afrika asook politieke bestendigheid, en sê dit is daarom ʼn aantreklike bestemming vir internasionale beleggers. Hy sê die forum het ʼn platform vir Franse maatskappye geskep om met plaaslike ondernemings in gesprek te tree, wat ekonomiese bande tussen die twee lande verder versterk:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, gewaarsku Teheran staan gereed vir ‘n beslissende en betreurenswaardige reaksie as Israel sy land aanval om wraak te neem ná ‘n missielaanval. Die Islamitiese Republiek het op 1 Oktober sowat 200 missiele op Israel afgevuur uit wraak vir die moord op twee van sy naaste bondgenote, die Hamas-leier, Ismail Haniyeh en die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah, asook ‘n Iranse generaal. Israel se minister van Verdediging, Yoav Gallant, het verlede week beloof sy land se vergeldingsmaatreël sal dodelik, presies en verrassend wees.
# Krieket: Perth sal volgende jaar die eerste toets om die As tussen Australië en Engeland aanbied, die eerste keer in 40 jaar dat die eer nie aan die Gabba in Brisbane behoort nie. Die eeu-oue kompetisie begin op 21 November op die Perth-stadion in Burswood en die tweede, ʼn dag-aandtoets, op 4 Desember op die Gabba. Die ander drie toetse sal in Adelaide, Melbourne en Sydney beslis word. Australië is tans die houer van die gesogte trofeetjie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-831-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….