Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Busisiwe Mkhwebane bedank uit die EFF
# Die Khampepe-kommissie hervat sy ondersoek na die dodelike brand in die Usindiso-gebou in Johannesburg
# En, rugby: Dafydd Jenkins gaan Wallis se November-toetse misloop weens besering
# Die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het afskeid geneem van die EFF. Sy het haar bedanking op X bekendgemaak en die party bedank vir sy ondersteuning na haar verwydering en ondersoeke na die CR17- en Phala Phala-skandale. Sy meld in haar brief sy het na deeglike oorweging en besprekings met haar familie, besluit dit is tyd om terug te staan, te rus en te fokus op haar geliefdes. Mkhwebane het ʼn jaar gelede na haar afdanking weens onbevoegdheid by die EFF aangesluit en daarna ʼn parlementslid vir die party geword.
# Die Khampepe-kommissie van ondersoek na die brandtragedie in die Usindiso-gebou in Johannesburg hervat vandag. Die kommissie is gestig om die dood van 77 mense in die brand in Augustus 2023 te ondersoek en het in Mei bevind die Stad Johannesburg en sy instellings was aanspreeklik. Die ondersoek het bevind die swak toestand van die gebou het die uitgebreide brand aangevuur en behoorlike prosesse is nie gevolg om die gebou behoorlik in wooneenhede te omskep nie. Die gebou is glo sedert 2019 aan sy eie lot oorgelaat.
# Cosatu verwelkom die opdrag van die minister van Vervoer, Barbara Creecy, vir ‘n dringende veiligheidsinspeksie van alle handelsvissersvaartuie in Suid-Afrikaanse water. Dit volg nadat ‘n vaartuig Sondagoggend aan die kus by Gansbaai in die Wes-Kaap aan die brand geslaan het. Die bemanningslede is almal ongedeerd gered. Zanele Sabela van Cosatu sê hulle is teleurgesteld dat ‘n vaartuig aan die brand moes slaan voordat die departement opgetree het, al was dit jare lank ‘n kommerwekkende kwessie:
# Die DA in Gauteng sê pasiënte en personeel van die Jubilee-hospitaal ly onder ‘n uitgerekte wateronderbreking. Die toilette werk nie en talle operasies is afgestel. Vakbonde dring sedert 2016 aan dat die hospitaalbestuur ʼn boorgat laat sink. ʼn DA-woordvoerder, Jack Bloom, sê daar is al meer as twee weke nie genoeg gebeurlikheidsmaatreëls van krag nie:
# Rugby: Die Walliese slot Dafydd Jenkins gaan volgende maand se toetse misloop terwyl hy nog herstel van knie- en skouerbeserings. Die 21-jarige het sy land tydens verlede jaar se Sesnasiesreeks gelei voor hy operasies ondergaan het voor die begin van hierdie seisoen. Die voorspeler van Exeter sal waarskynlik in Desember terug wees vir die tweederonde-kragmeting met verdedigende kampioen Toulouse in die Kampioenebeker. Wallis speel in November teen Fidji, Australië en Suid-Afrika en hoop op sy eerste toetsoorwinning sedert ‘n jaar gelede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-228-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….