Nuus 08:00
BULLETIN 16 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskuldig die Spesiale Ondersoekeenheid dat dit ‘n presidensiële moordbende is
# Die polisie identifiseer vier verdagtes wat met die Lusikisiki-slagting verbind word
# En Julius Malema sê Ray McCauley het in dieselfde voetspore as Desmond Tutu geloop
# Die MK-party het die Spesiale Ondersoekeenheid beskuldig dat hy ‘n presidensiële moordbende is wat ondersoeke vir politieke redes doen. Die eenheid het gister ʼn voorlegging oor sy jaarlikse verslag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling aangebied. Die MK-party se hoofsweep, Mzwanele Manyi, sê hy betwyfel die Spesiale Ondersoekeenheid se onafhanklikheid omdat die president ʼn proklamasie moet onderteken voordat dit met ʼn ondersoek kan begin:
# Die polisie het ʼn soektog begin na vier mans wat moontlik verbind kan word met die Lusikisiki-massamoord waarin 18 mense verlede maand in die Oos-Kaap dood is. Die verdagtes is Songezo Vuma, Bonga Hintsa, Aphiwe Ndende en Lwando Anthony Shakes. Een van die mans wat reeds in verband met die moorde gearresteer is, Siphosoxolo Myekethe, het sy borgtogaansoek laat vaar. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle glo hierdie verdagtes kan hulle help om die moorde op te los:
# Die Britse regering het sanksies ingestel teen drie onwettige setlaar-buiteposte en vier organisasies wat geweld teen gemeenskappe in die Wesoewer ondersteun en borg. Dit volg ná ʼn ongekende toename in setlaar-geweld in die Wesoewer die afgelope jaar. Die Verenigde Nasies het sedert Oktober verlede jaar meer as een-duisend-400 aanvalle deur setlaars op Palestynse gemeenskappe aangemeld. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Lammy, sê die Israelse regering se gebrek aan optrede het ʼn omgewing van strafloosheid bevorder waar geweld deur setlaars toegelaat is om voort te gaan.
# Sokker: Suid-Afrika is steeds tweede in Groep K ná Uganda nadat hulle kwalifiserende wedstryd vir die 2025 Afrikanasie-beker teen die Kongo in Brazzaville met een elk gelykop geëindig het. Elias Mokwana van Bafana Bafana se doel in die 33ste minuut is uitgekanselleer deur Mons Bassouamina se doel teen rustyd. Suid-Afrika moet in November een van hulle oorblywende twee kwalifiserende wedstryde teen Uganda en Suid-Soedan wen om hul plek in Afcon te bespreek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-147-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-38-sent per vat.
# En, die EFF-leier Julius Malema het wyle pastoor Ray McCauley met aartsbiskop Desmond Tutu vergelyk en sê hy was ʼn ouderling van die nasie en ʼn man van vrede. Die 75-jarige stigter van die Rhema Bybelkerk is verlede week dood. Sy gedenkdiens word Donderdag gehou en sy begrafnis Saterdag. Malema het McCauley se familie gister besoek en sê pastoor McCauley was in moeilike omstandighede dikwels die stem van rede en bemiddeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….