Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa versoek ‘n Konstitusionele Hof-hersiening van die Wetsontwerpe op Kopieregwysiging en die Beskerming van Kunstenaars
# Die Lusikisiki-moordbeskuldigde laat vaar sy borgtogaansoek
# En, rugby: Die EFF kritiseer SA Rugby se voorgestelde aandele-ooreenkoms
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars na die Konstitusionele Hof verwys om te bepaal of dit grondwetlik is. Section27 het verlede week namens Blind SA ‘n dringende regsaansoek teen Ramaphosa ingedien oor die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg, wat noodsaaklik is vir beter toegang tot leesmateriaal vir blindes en siggestremdes. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa is besorg oor sekere bepalings in die wetgewing:
# Die man wat daarvan beskuldig word dat hy 18 familielede in die Ngobozana-woongebied in Lusikisiki in die Oos-Kaap vermoor het, het sy borgtogaansoek laat vaar. Siphosoxolo Myekethe het vandag weer in die plaaslike Landdroshof verskyn. Myekethe was tydens die massamoord uit op parool. Hy word aangekla van 18 moorde en die besit van ‘n ongelisensieerde AK-47-geweer. Die saak is tot 26 November uitgestel vir verdere ondersoeke en die uitslae van ballistiese toetse.
# Daar was twee brandvoorvalle by die ruskampe Satara en Olifants in die Kruger-wildtuin. Kooltjies van ʼn braaivleisvuur in Satara het die grasdak van ʼn chalet laat vlamvat. In Olifants is drie chalets om dieselfde rede ontruim en gaste is in nabygeleë kampe gehuisves. SANParke herinner besoekers daaraan om braaivleisvure na gebruik te blus om verdere voorvalle te voorkom. Woordvoerder JP Louw bevestig geen beserings is aangemeld nie:
# Noord-Korea het gedeeltes van die diep simboliese verbindingspaaie met die Suide opgeblaas. Seoel het daarna ‘n teen-operasie uitgevoer. Pjongjang se Weermag het onderneem om sy suidelike grens permanent te sluit nadat hy myne gelê en teen-tenkversperrings opgerig het. Dit het gevolg nadat sy leier, Kim Jong Un, die Suide tot hoofvyand verklaar het. Die Noorde het ook die Suide daarvan beskuldig dat hy hommeltuie gebruik om propaganda-pamflette in die hoofstad te versprei. Kim het ʼn sekerheidsvergadering belê om ʼn plan van onmiddellike militêre optrede te bespreek.
# Rugby: Die EFF sê hy is ontsteld oor SA Rugby se voorgestelde aandele-ooreenkoms met Ackerley Sports Group. Die privaat ooreenkoms van 1,3-miljard-rand beteken SA Rugby verkoop ʼn aandeel in sy sake-afdeling aan die Amerikaanse maatskappy. Die EFF sê dit maak rugby ʼn eksklusiewe, privaat beheerde sport met Ackerley wat ʼn ewigdurende lisensie het om SARU se handelsregte en meerderheids-verteenwoordiging te beheer. Hy sê die regering van nasionale eenheid se gebrek aan betrokkenheid wys sy versuim om toesig te hou oor rugby-ontwikkeling in die land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-552-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-650-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….