Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Lusikisiki-moordbeskuldigde laat vaar sy borgtogaansoek
# Die saak van die bestuurder in die noodlottige leerdervervoerongeluk in Carletonville word uitgestel tot Januarie
# En, sokker: ‘n Oorwinning vir Bafana in Brazzaville vanaand sal sy plek verseker in volgende jaar se Afrikabekertoernooi
# Die man wat daarvan beskuldig word dat hy 18 familielede in die Ngobozana-woongebied in Lusikisiki in die Oos-Kaap vermoor het, het sy borgtogaansoek laat vaar. Siphosoxolo Myekethe het vandag weer in die plaaslike Landdroshof verskyn. Myekethe was tydens die massamoord uit op parool. Hy word aangekla van 18 moorde en die besit van ‘n ongelisensieerde AK-47-geweer. Die saak is tot 26 November uitgestel vir verdere ondersoeke en die uitslae van ballistiese toetse.
# Die saak teen Gert Laurence van Emmenis wat tereg staan op 12 aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur, is tot 20 Januarie uitgestel. Die 55-jarige bestuurder was in Julie betrokke in ‘n ongeluk in JB Marxweg in Fochville, waarin 11 leerders en hul bestuurder gesterf het. Hy is op borgtog van 20-duisend-rand vrygelaat met streng voorwaardes, insluitend sy paspoort moet ingehandig word en hy mag geen kontak met getuies hê nie.
Die Padongelukkefonds brei intussen sy Invloedryke verdedigingsbestuurder-slypskole uit na leerder-vervoerbestuurders om landwyd kinders se lewens te red. Siphamandla Gumbi van die fonds sê volgens statistiek het gemiddeld 827 kinders tussen die ouderdomme van vyf en 14 tussen 2018 en 2022 op Suid-Afrikaanse paaie gesterf. Hy sê 66-persent van die kinders was voetgangers en 33-persent was passasiers:
# Die DA-leier in Gauteng, Solly Msimanga, beweer premier Panyaza Lesufi beskerm korrupte amptenare deur die weerhouding van forensiese ondersoekverslae. Die DA het herhaaldelik versoek dat voltooide verslae, insluitend oudits, in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vrygestel moet word. Msimanga sê die versuim om hierdie verslae te publiseer, belemmer deursigtigheid en dienslewering. Hy het die DA se planne bevestig om die saak na die Openbare Beskermer te neem:
# Sokker: Bafana Bafana pak die Kongo vanaand in Brazzaville in die tweede ronde van hulle Afrikabeker-kwalifiseerder. Suid-Afrika se afrigter, Hugo Broos, is bekommerd oor die toestand van die sintetiese veld. Bafana het Kongo 5-nul verpletter in Vrydag se eersteronde-wedstryd in Gqeberha, en het nog net drie punte nodig om te kwalifiseer vir volgende jaar se toernooi in Marokko. ‘n Oorwinning vandag sal hulle laat deurdring. Broos sê hulle het al onsmaaklike ondervindings gehad met swak sintetiese velde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-429-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….