Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak van die bestuurder in die noodlottige leerdervervoerongeluk in Carletonville word uitgestel tot Januarie
# Binnelandse Sake dissiplineer 31 amptenare binne drie maande
# En, krieket: Nieu-Seeland word die tweede span wat kwalifiseer vir die halfeindronde van die vroue-T20-Wêreldbekertoernooi
# Die saak teen Gert Laurence van Emmenis wat tereg staan op 12 aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur, is tot 20 Januarie uitgestel. Die 55-jarige bestuurder was in Julie betrokke in ‘n ongeluk in JB Marxweg in Fochville, waarin 11 leerders en hul bestuurder gesterf het. Hy is op borgtog van 20-duisend-rand vrygelaat met streng voorwaardes, insluitend sy paspoort moet ingehandig word en hy mag geen kontak met getuies hê nie.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die departement het tussen Julie en September vanjaar 31 dissiplinêre sake teen amptenare afgehandel wat tot ’n reeks strawwe gelei het, insluitende strafregtelike vervolging, afdanking, skorsing sonder salaris en finale skriftelike waarskuwings. Hierdie optredes weerspieël die departement se verskerpte verbintenis teen amptenare wat by wanbestuur betrokke is. Schreiber sê die amptenare was betrokke by oortredings in verband met onreëlmatige werwing en oortredings van die Burgerskapwet en die Immigrasiewet.
# Johannesburg Water sê hy merk ‘n aansienlike toename in watergebruik wat talle reservoirs raak. Die vraag na water oorskry die beskikbare aanbod in verskeie waterstelsels wat die nutsmaatskappy dwing om dringend by die bestuur daarvan in te gryp. Johannesburg Water se woordvoerder, Nolwazi Dhlamini, sê inwoners in verskeie voorstede, veral dié in hoogliggende gebiede, kan soms lae waterdruk of selfs wateronderbrekings verwag:
# Krieket: Nieu-Seeland het die tweede span geword om vir die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue te kwalifiseer toe hulle Pakistan met 54 lopies geklop het in hulle Groep A-wedstryd in Dubai. Die verdedigende kampioen, Australië, het vroeër gekwalifiseer. Engeland speel vandag in Groep B teen die Windies en albei spanne, sowel as Suid-Afrika, is nog op koers vir ‘n plek in die voorlaaste ronde. Indien Engeland wen, sal hulle en die Proteas deurdring, maar ʼn oorwinning vir die eilandbewoners kan Suid-Afrika uitskakel wens hulle beter netto-lopietempo.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-699-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Kwaai donderstorms word vandag regoor Johannesburg verwag met swaar reën, sterk wind en moontlike oorstromings. Inwoners in laagliggende gebiede word gemaan om nie stroompies oor te steek nie. Motoriste moet ʼn veilige volgafstand handhaaf en moet paaie wat onder water is, vermy. ‘n Woordvoerder van die Johannesburgse Noodbestuursdienste, Robert Mulaudzi, sê die owerhede hou die weerwaarskuwing fyn dop en is gereed om op te tree in die geval van enige ontwrigtings soos padsluitings of kragonderbrekings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….