Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Green Connection sê hy is ingenome dat die omstrede Karpowership-ooreenkoms met Suid-Afrika nie meer voortgaan nie. Eskom het vroeër die jaar die ooreenkoms met Karpowership beëindig en aangekondig hy gaan nie langer die transmissievermoë bespreek wat aanvanklik vir die Turkse maatskappy opsygesit is nie. Ingevolge die ooreenkoms van meer as 200-miljard-rand sou Karpowership een-duisend-220-megawatt se krag verskaf. Liziwe McDaid van Green Connection sê hulle was bekommerd oor die omgewingsgevare wat drywende kragopwekkingsaanlegte vir die mariene-ekostelsels inhou:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê hy takel e-afval deur wetgewende en regulatoriese maatreëls om tot die vermindering van besoedeling by te dra. Byna 68-duisend ton e-afval is tot op hede van stortingsterreine weggewys en herwin deur uitgebreide verantwoordelikheidskemas vir vervaardigers. Die departement sê hy versterk ook wetstoepassing teen die vervaardigers van elektriese en elektroniese toerusting wat nie aan die maatreëls voldoen nie. Altesaam 37 vooraf-voldoeningskennisgewings is tot dusver aan die vervaardigers van elektroniese en elektriese produkte uitgereik.
# En ten slotte: Slegs sowat ‘n derde van Europa se oppervlakwater is in ʼn goeie toestand of beter. Dis volgens ʼn verslag van die Europese Omgewingsagentskap wat drie uitdagings noem waarmee die vasteland se toekomstige waterbestuur te kampe het. Dit is die beskerming en herstel van water-ekostelsels, pogings om besoedeling te stop, en aan te pas by waterskaarste, droogte en oorstromings. Lande soos Duitsland en Nederland het meer waterbronne in ʼn swak toestand. Die agentskap sê oplossings vir die swak toestand van Europa se water sluit in die vermindering van aanvraag en herstel van riviere en vleilande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….