Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die regering van nasionale eenheid het Suid-Afrikaners in die steek gelaat
# Die DA in Gauteng is bekommerd oor die Gesondheidsdepartement se bevriesing van personeelwerwing
# En unies is gekant teen SA Rugby se voorstel oor ‘n aandeelbelang met die Ackerley Sports Group
# COPE sê die regering van nasionale eenheid het nie daarin geslaag om die probleme van die meerderheid van Suid-Afrika se mense aan te pak nie, en die nalatenskap van ongelykheid, uitsluiting van armes, werkloses en kwesbares word voortgesit. Dit was verlede week die koalisieregering se eerste 100 dae aan bewind. COPE sê die regering het nog nie enige verbintenis getoon tot die hervorming van die strukturele ekonomie wat deur monopolieë oorheers word nie. Waarnemende nasionale voorsitter Pake Dikgetsi eis dringende beleidshervoming vir inklusiewe ekonomiese hervorming:
# Die DA in Gauteng sê pasiënte in staatshospitale staar ‘n ramp in die gesig want alle poste is gevries weens drastiese begrotingsbesnoeiings. Die uitvoerende hoofde van hospitale is verlede week aangesê hulle mag nie nuwe personeel aanstel nie en oortyd is ook ingekort. Jack Bloom van die DA sê die personeelkrisis kon met behoorlike beplanning verhoed word, maar roekelose besteding en swak bestuur het hospitale in ‘n benarde posisie gelaat:
# Saoedi-Arabië se Uitvoer-Invoer Bank het ‘n kredietooreenkoms van 440-miljoen-rand met Standard Bank onderteken om handel tussen die olieryke koninkryk en Suid-Afrika te bevorder. Die doel is om Saoedi-uitvoere na Afrika te hanteer en beleggings in die land te ondersteun. Suid-Afrika se uitvoere na Saoedi-Arabië het van 2022 tot verlede jaar toegeneem van 6,6- tot 8,1-miljard-rand. Die land was verlede jaar Suid-Afrika se 14de grootste handelsvennoot. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hulle wil ʼn tweejaar-aksieplan uitwerk om ekonomiese bande tussen die twee lande te versterk.
# Rugby: SA Rugby se voorgestelde privaat aandelebelang-ooreenkoms van 1,3-miljard-rand met die Ackerley Sports Group van Amerika word glo sterk teengestaan. Die ooreenkoms behels dat Saru ‘n 20-persent belang van sy kommersiële sakebelange aan ASG verkoop. Volgens News24 het sewe van Saru se 14 lid-unies ‘n brief onderteken wat die ooreenkoms teenstaan en oefen druk uit vir die uitstel van Donderdag se stemming. Hulle vra ook dat ‘n alternatiewe voorstel binne drie maande voorgelê moet word. Vyf-en-sewentig persent van die unies moet die ooreenkoms steun voordat dit kan slaag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-639-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Die een senior Australiese politikus na die ander weier om koning Charles en koningin Camilla te ontmoet tydens hul staatsbesoek wat Vrydag begin. Die jongste om ‘n uitnodiging na Maandag se onthaal in Canberra van die hand te wys is die premier van Victoria, Jacinta Allan, asook die premier van Queensland, Steven Miles, en die premier van Suid-Australië, Peter Malinauskas. Volgens Sky News skryf ander hulle afwesigheid toe aan hulle werksladings. Die reis na Australië is is Charles en Camilla se eerste sedert hy in 2022 koning geword het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….