Nuus 09:00
BULLETIN 15 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Green Connection verwelkom die beëindiging van die omstrede Karpowership-ooreenkoms
# Die groei in digitale bankdienste in Suid-Afrika het gelei tot werksverliese
# En die Wêreld Gesondheidsorganisasie keur A-pokke-entstof vir adolessente goed
# Green Connection sê hy is ingenome dat die omstrede Karpowership-ooreenkoms met Suid-Afrika nie meer voortgaan nie. Eskom het vroeër die jaar die ooreenkoms met Karpowership beëindig en aangekondig hy gaan nie langer die transmissievermoë bespreek wat aanvanklik vir die Turkse maatskappy opsygesit is nie. Ingevolge die ooreenkoms van meer as 200-miljard-rand sou Karpowership een-duisend-220-megawatt se krag verskaf. Liziwe McDaid van Green Connection sê hulle was bekommerd oor die omgewingsrisiko’s wat drywende kragopwekkingsaanlegte vir die mariene-ekostelsels inhou:
# ‘n Wydverspreide oorgang na digitale bankdienste het banke genoop om hul bedrywighede aan te pas wat tot die verlies van sowat sewe-duisend werksgeleenthede gelei het. Standard Bank alleen het in die eerste helfte van die jaar ʼn 30-persent-toename in aanlyn transaksies beleef. Volgens Business Tech het Absa sy personeel van 28-duisend-595 in 2019 tot 27-duisend-42 vanjaar verminder terwyl Nedbank se werksmag met meer as drieduisend verklein is. Banke probeer digitale vernuwing balanseer met ʼn fisiese teenwoordigheid om aan die uiteenlopende behoeftes van klante te voldoen.
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die reaksieprotokol-ooreenkoms wat die Ekurhuleni-metro en die Openbare Beskermer gesluit het om onopgeloste diensleweringsprobleme aan te spreek. Ingevolge die ooreenkoms kan klagtes en bewerings wat met wanadministrasie, korrupsie en ander vorms van wangedrag verband hou, by die Openbare Beskermer aangemeld word. Jennifer Glover van die VF Plus, sê deur die ooreenkoms te onderteken, verbind die stadsbestuurder die metro tot doeltreffende bestuur en dienslewering:
# Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het Bavarian Nordic se A-pokke-entstof, Jynneos, goedgekeur vir tieners tussen 12 en 17. Die organisasie sê hierdie kwesbare ouderdomsgroep loop groter gevaar tydens uitbrekings. Die voor-kwalifisering volg op vroeëre goedkeuring in September vir volwasse gebruik. Die WGO het A-pokke in Augustus tot internasionale gesondheidsgevaar verklaar nadat nuwe besmettings vanaf die Demokratiese Republiek die Kongo versprei het. Bavarian Nordic beplan kliniese proewe op jonger kinders, terwyl ander entstowwe, soos LC16 uit Japan, reeds beskikbaar is vir pediatriese gebruik.
# Rugby: Die Franse Rugby-federasie, die Nasionale Rugbyliga en die spelersvereniging is sterk gekant teen die voorgestelde 20-minute rooikaart. Wêreldrugby het verlede week gesê die moontlikheid van die vervanging van ‘n rooikaartspeler met ‘n spanmaat na 20 minute beweeg nader aan wêreldwye aanvaarding ná suksesvolle proeflopies. Die drie Franse beheerliggame sê in ‘n gesamentlik verklaring die instelling van die 20-minute rooikaart kan die beeld van rugby skade berokken want dit kan meer aggressiewe spel aanmoedig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-603-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….