Nuus 08:00
BULLETIN 15 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatsdienskommissie is bekommerd oor nasionale departemente wat nie rekenings betaal nie
# Minister Chikunga vra vir ‘n wapenvrye samelewing en ‘n einde aan geslagsgeweld
# En Netanyahu ontken aantygings dat Israel doelbewus VN-vredesmagte aanval
# Die Staatsdienskommissie doen ‘n beroep op die Nasionale Tesourie om dringend stelsels en beleide vir finansiële bestuur in departemente te hersien. Hy het onthul dat nasionale departemente in die 2024/2025-boekjaar se eerste kwartaal versuim het om 30-duisend-571 fakture ter waarde van 1,7-miljard-rand binne 30 dae te betaal. Die kommissie se kommissaris, Anele Gxoyiya, sê die mees algemene redes wat departemente vir die laat of niebetaling aanvoer, wissel van fakture wat verkeerd geliasseer, verlê of nie aangeteken word nie tot onvoldoende interne beheer.
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, vra dat die gesinstruktuur hervorm en versterk word om geslagsgeweld en moord op vroue te beëindig. Vyf familielede, insluitend twee jong kinders, is Sondag in Bergville, KwaZulu-Natal, dood. Nog ʼn massaskietvoorval het in Orange Farm, Gauteng, plaasgevind waar sewe mense dood is. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê Suid-Afrika moet ʼn wapenvrye land word:
# Die Regterlike Dienskommissie het die Appèlhof-regter, Nolwazi Mabindla-Boqwana, aanbeveel as regterpresident van die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof. Sy het ʼn voortreflike regsloopbaan van twee dekades en is ʼn voorstander van hervorming in die regstelsel. Regterpresident Patricia Goliath het byna twee jaar in die amp waargeneem in die plek van John Hlophe wat in ʼn staat van beskuldiging geplaas is.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, ontken bewerings dat sy weermag doelbewus die Verenigde Nasies se vredesmaglede in die suide van Libanon aanval. Die VN sê Israel het die afgelope week op sy lede geskiet, ʼn basis met geweld binnegegaan, ʼn noodsaaklike logistiese operasie gekeer en meer as tien personeellede in die suide van Libanon beseer. Netanyahu sê Hizbollah is bedrywig in gebiede naby tussentydse VN-magte in Libanon:
# Tennis: Die Amerikaners Coco Gauff, Jessica Pegula, die Italianer Jasmine Paolini en Elena Rybakina van Kazakstan het vir die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië, gekwalifiseer. Die vier sluit aan by die Pool, Iga Swiatek, en Aryna Sabalenka van Belarus, wat plek laat vir nog twee kwalifiseerders. Dit is Gauff se derde agtereenvolgende WTA-jaareindtoernooi. Sy het verlede jaar die beste gedoen toe sy die halfeindronde gehaal het. In die dubbelspel is ook twee plekke oop nadat die Amerikaners, Caroline Dolehide en Desirae Krawczyk, gekwalifiseer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-603-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….